TUISGEMAAKTE REGTE ROOM-, MAAS- OF FETAKAAS
Tuisgemaakte kaas is BAIE goedkoper en lekkerder as gekooptes!
- 2 liter vars ongepasteuriseerde melk
- 45 ml suurlemoensap of wit druiweasyn
- 2 eetlepels botter
- 1 teelepel sout
Plaas die melk in ‘n groot genoeg kastrol en verhit tot net voor kookpunt.
Roer heeltyd met ‘n platpunt houtspaan om te verhoed dat dit aanbrand.
Draai die stoof se hitte tot baie laag en voeg die suurlemoensap of wit druiweasyn bietjie vir bietjie by, terwyl dit stadig met op- en afbewegings geroer word.
Skakel die stoofplaat af en los die melk vir ongeveer 10 – 15 minute om heeltemal te skei.
Plaas intussen ‘n sif of vergiettes met ‘n moeseliendoek oor ‘n diep bak gereed.
Giet die geskeide melk in die doek sodat die wei kan uitsyfer.
Vou die doek se 4 punte bymekaar en draai en druk saggies dat die ergste wei kan uitsyfer.
Skep die wrongel (oorblyfsel in die doek) uit die doek in ‘n versapper, saam met die botter en sout.
Indien die wrongel te styf is, kan ‘n eetlepel of 2 van die wei of volroom melk bygevoeg word, maar dis gewoonlik nie nodig nie.
Maak die mengsel fyn in die versapper en skep dit uit in ‘n bakkie met ‘n deksel om in jou yskas te verkoel.
Versier enige wortelkoek of rooifluweelkoek met hierdie roomkaas.
Nota:
Omdat dit ‘n sagte roomkaas is, moet jy dit nie te droog laat uitdrup nie. Wanneer dit klaar deur jou versapper is, reg gegeur en behoorlik afgekoel het (ek los dit oornag in die yskas), is dit net reg om met die versierspuit te spuit. Nie te slap nie.
Vir krummelrige maaskaas:
Los dit oornag in die doek om af te drup, want dan voeg jy ‘n bietjie wei gemeng met ‘n bietjie volroommelk oor die krummels in jou bêrehouer om dit klam te hou.
Vir Fetakaas:
Plaas ‘n gewig op die kaas in die doek en los dit vir ongeveer 2 tot 3 dae in die vorm in die yskas, om soveel moontlik wei uit te pers en dit ferm te kry. Voor jy dit sny en weer in ‘n houer met soutwater pak om vir 1 tot 3 weke te staan en ryp te word.
Verskillende geure:
Geur die roomkaas met ‘n keuse van 2 tot 3 van die volgende keuses – swartpeper, knoffelpoeier, uiepoeier, gekapte uieblare, vars opgekapte kruieblare, bv. basiliekruid / dille / vinkel / origanum / marjolein / suurlemoengras ens.
Gedroogde bosbessies (“cranberries”), opgesnyde ingelegde groenvye, gekapte en geroosterde okkerneute, opgesnyde songedroogde tamaties of olywe.
Rol die kaas in ‘n worsievorm in kleefplastiek en bêre oornag in die yskas. Sit voor saam met soutkoekies of kaasstokkies op ‘n bord saam met ander kaassoorte om jou gaste te beïndruk.
Vir Mesos (uitgespreek “mie-sós”):
Die wei word gebruik om ‘n eksotiese ligbruin karamelagtige souterige Noorweegse smeerkaas te maak. Kook die wei tot omtrent ‘n ¼ van die oorspronklike volume oor is. Plaas die afgekookte wei in ‘n oop diep pan, voeg ‘n koppie volroommelk of room by en laat prut tot dik, terwyl aanhoudend roer. GEEN sout of suiker word bygevoeg nie, maar dis nogtans lekker wanneer dit souterig en terselfdertyd effens soet ook is. Veral heerlik saam met “digestive bran”-koekies.
Resep: Carlien Coetzee