FLAMBY
Berei 5 of 6 individuele ramekins voor. Bespuit met kleefwerende kossproei.
- Karamel:
- 100 g suiker
- 45 ml water
- Vla:
- 500 ml volroom melk
- 3 ml vanilla geursel
- 2 groot eiers
- 3 eiergele
- 70 g suiker
Karamel:
Plaas die suiker en water in ‘n klein kastrol. Skud eers die kastrol om die suiker ‘n bietjie in die water op te los. Oor medium hitte, los die karamel om te vorm sonder om te roer. Dit behoort ongeveer 10 minute te vat. (Hou jou oog op die karamel). Dit moet soos karamel begin ruik wanneer dit ligbruin is. (te lig sal dit soet wees, en as dit donkerder is sal dit bitterder wees) Verdeel die karamel in die ramekins. Laat staan eenkant om af te koel sodat die karamel stol.
Vla:
Verhit die oond tot 170°C. Voeg die melk in ‘n kastrol en voeg vanilla by. Laat die melk net verhit tot begin prut. (nie kook nie)
Verwyder van die stoof en laat effens afkoel. Klits die eiers, eiergele en suiker saam tot romerig.
Voeg die lou melk bietjie vir bietjie by die eiermengsel tot net gemeng. Laat rus ‘n minuut vir die skuim om te sak.
Plaas die ramekins in ‘n oondpan met warm water in. (1/3 van die pan).
Verdeel die warm dun vla oor die karamel in elke ramekin. (Ongeveer half of ¾ vol)
Bak vir ongeveer 40 minute lank of tot gestol. Toets met toetspen.
Haal uit oond en laat rus vir 10 minute lank. Sodra dit afgekoel is plaas dit in die yskas en verkoel minstens 2 ure lank of oornag.
Voor dit uitgekeer word sit dit in warm water vir die karamel om te smelt en keer dan uit op individuele opdienborde en geniet.
Resep en foto: Amanda Austen