STOLLEN – DUITSE VRUGTEBROOD
Ons het kersete op ‘n jagplaas gaan eet.
Ek het egter vroeër in Desember vir ons Stollen gebak. Hier is my eie resep.
Dis Duitse vrugtebrode. Ek het die resep al amper 40 jaar gelede opgestel. Stollen is duur om te maak en vat lank, maar dis die moeite werd, omdat hulle so ontsaglik duur is om te koop. Uit hierdie resep kry jy 6 Stollen. Jy kan hulle selfs nog kleiner maak en 8 vorm, toets dan net vroeër of gaar.
Jy moet die vorige dag al voorberei en vir jou ‘n hele dag oophou as bakdag.
Dis ook heerlik om as geskenke weg te gee. Draai toe in sellofaanpapier met mooi strikkies.
- 2 kg koekmeel
- 16 teelepels bakpoeier
- 525 g regte botter
- 600 g suiker
- 3 pakkies vanieljesuiker (Duitse afdeling) [Jy kan ook 3 teelepels vanieljegeursel gebruik.]
- 3 knippies sout (Dis so ‘n teelepel vol.)
- 3 eetlepels Rum
- gerasperde skil van 3 suurlemoene
- 6 eiers (klits effens)
- 750 g vetvrye maaskaas (3 bakkies)
- 500 g sultanas
- 500 g rosyne
- 500 g korente
- 120 g geglasuurde lemoenskil
- 120 g geglasuurde suurlemoenskil (Laasgenoemde twee is ook in die Duitse afdeling beskikbaar.)
(Ek kon nie hierdie vrugte hier by ons kry nie en het dus in plek van bogenoemde 5 bestanddele, 7 pakkies koekmengsel, 1.750 kg, gebruik.) - 1 koppie Rum
- 300 g amandelvlokkies of splinters (Jy kan ook amandels in die skil koop.)
- Vir bo-oor:
- 150 g regte botter gesmelt
- 3 pakkies vanieljesuiker
- Versiersuiker
Op die dag voor die tyd:
As die amandels nog in die skil is, plaas hulle in kookwater en kook op. Druk net die neute agterna, dan spring hulle uit die skil uit. Plaas hulle op ‘n skinkbord om droog te word.
Vat al die vrugte of koekmengsel en kook dit net op. Dreineer en voeg 1 koppie Rum by. Laat staan tot môre en roer af en toe.
Bakdag:
Sif die meel en bakpoeier in ‘n groot skottel.
Rasper die botter in en sny dit met ‘n slaplemmes in.
Maak ‘n holte in die middel van die meelmengsel.
Voeg al die bestanddele in die volgorde soos bo, by. (Kap die amandels of rasper hulle grof, voor jy hulle bysit.)
Voorverhit die oond tot 180°C.
Knie die deeg vinnig tot al die bestanddele goed gemeng is.
Verdeel deeg in 6 dele en vorm op ‘n oppervlak wat met meel bestrooi is. Stollen.
Stollen is ovaal en die deeg word in die lengte effens oorgevou.
Plaas twee Stollen langs mekaar op ‘n bakplaat wat met met bakpapier oorgetrek en met kleefwerende kossproei gespuite is.
Maak losserig toe met ‘n vel silwer foelie en vou die kante om die pan.
Bak vir 1 uur in voorverhitte oond.
Haal boonste foelie af en bak oop vir nog 20 minute.
Toets met toetspen of gaar.
Haal uit oond uit en plaas Stollen op draadrakke.
Bak intussen die ander Stollen.
Smeer warm Stollen met gesmelte botter bo-oor.
Sprinkel vanieljesuiker bo-oor.
Sif nou dik versiersuiker bo-oor en laat afkoel.
Plaas op silwer foelie oorgetrekte houtbordjies of harde karton.
Draai met silwer foelie toe en bêre.
Ek draai hulle eers die volgende dag toe en bêre hulle in die vrieskas tot gebruik.
Marzipan middel laag:
Maak die rou, skoon marzipan in ‘n rolletjie. Dan druk jy die ovaal rou brood bietjie plat, plaas dit in die lengte in die middel en vou die een kant bo-oor. Nie tot op die kant nie net so bietjie meer as driekwart. Druk dan vas en vorm jou brood klaar. Ek hoop ek verduidelik dit goed genoeg. Marzipan is heerlik daarin. Ek sukkel net om die skoon marzipan hier in Tsumeb te kry.
Maak die rou, skoon marzipan in ‘n rolletjie. Dan druk jy die ovaal rou brood bietjie plat, plaas dit in die lengte in die middel en vou die een kant bo-oor. Nie tot op die kant nie net so bietjie meer as driekwart. Druk dan vas en vorm jou brood klaar. Ek hoop ek verduidelik dit goed genoeg. Marzipan is heerlik daarin. Ek sukkel net om die skoon marzipan hier in Tsumeb te kry.
Resep en foto: Petra Venter
Category:












