MANGOKONFYT
Dis mos nou mangoseisoen. Ek het vandag vir die tweede keer, hierdie seisoen, mangokonfyt gekook. Dis ons almal se gunstelingkonfyt. Hier is die resep.
- 3 kg ryp mangoblokkies (Sonder skille en sonder pitte afgeweeg.)
- 1,8 kg suiker (Ek het wit gebruik, maar jy kan bruin ook gebruik.)
- 220 ml suurlemoensap en nog 6 suurlemoenskywe (Hou die pitte van die suurlemoene eenkant.)
Bind die pitte van die suurlemoene in ‘n moeseliendoekie toe.
Ek kook dit saam, vir die pektien.
Dit help om die konfyt te laat stol.
Dan kan ek dit maklik uitskep teen die einde.
Jy kan die pitte ook net so bygooi en dan teen die einde afskep.
Skil en sny mango’s in stukke en weeg 3 kg af.
Gebruik verkieslik mango’s sonder of met min veselhare.
Pak alles in lae in ‘n kastrol.
Laat staan oornag.
Nota:
Ek het my vrugte en suiker in die oggend gepak en die namiddag die konfyt gekook.
Smelt eers die suiker op lae hitte tot opgelos.
Dit het my omtrent 20 minute gevat.
Ek het die suiker teen die wand van die kastrol met ‘n nat kwassie afgevee.
Smeer die binnekant van die kastrol se wand met botter.
Kook dan tot verlangde dikte.
Jy hoef nie die skuim af te skep nie, dit kook later self weg.
Plaas vooraf ‘n piering in die vrieskas. Toets jou konfyt daarop.
Myne het so 40 minute gekook.
Verwyder suurlemoenskywe en sakkie met pitte.
Maak fyner met staafmenger.
Bottel in vooraf gesteriliseerde bottels.
Draai bottels toe en laat onderstebo afkoel.
Resep aangepas en foto: Petra Venter












