MAKLIKE VLEISPASTEITJIEDEEG
Ek gebruik hierdie pasteitjie deeg vir vleispasteitjies. Dit rol lekker dun uit, dit is vir my die “go to” resep.
Dis vinnig, maklik, nie olierig of droog nie.
Ek werk meestal op die half mates wat in hakies geplaas is.
Ek het ekstra nota’s aangebring vir my eie gebruik, indien iemand wonder.
Vleispasteitjiedeeg:
Jy kan dit die vorige dag maak of dieselfde dag gebruik.
Ek het al hierdie deeg gevries ook.
Dis n lieflike deeg wat sag is by kamertemperatuur en is maklik hanteerbaar.
Vleisvulsel:
Maak die vleis die vorige dag gaar en sit in yskas, wanneer jy dan die pasteitjies gaan rol is die vleis lekker styf en dit rol makliker.
Maak maalvleis gaar volgens jou smaak, voeg sout, peper, koriander, tiemie, kerrie, kruie van jou keuse by. Die vleis moenie te droog of te nat wees nie.
- Deeg: (halwe resep mates in hakkies)
- 8 koppies koekmeel (4 koppies)
- 1 teelepel sout (½ teelepel)
- 500 g margarien (250 g)
- 4 eiergele (2 eiergele)
- 4 eetlepels asyn (2 eetlepels)
- 500 ml yswater (250 ml)
Meng alles goed tot ‘n sagte deeg. Laat staan vir 15 tot 30 minute. Rol uit.
Maak een lang rol, sny in lengtes van jou keuse nadat jy die vulsel ingesit het en opgerol het.
Rol die deeg 1½ keer. Verf die laaste gedeelte met geklitste eier en sit die las gedeelte onder.
Nota:
Jy kan gemengde groente ook by die vleis sit, maar meng dit goed sodat alles redelik fyn is.
Bone, ertjies, wortels, aartappels, uie.
Andersins kan jy mash maak en by die vleis inmeng.
Pak die vulsel lekker styf op die deeg.
Moenie die vulsel direk op die begin punt van die deeg pak nie. Liewer so 2 – 3 cm in.
Rol op en seël.
Pak jou vleispasteitjies op bakplaat en dan verf jy dit met geklitste eier bo-op.
Jy kan mayonnaise by die geklitste eier inmeng dan kry dit die goue bruin kleur soos op die foto.
Bak vir ongeveer 25 min by 190° C.
Resep en foto: Hannie Steyn
Nota: Wilma Scott
Ek gebruik 300 g vleis, omtrent 150 g aartappel, en 100 g uie – aartappel en ui nie presies so afgeweeg nie, maar dis omtrent die verhouding.
Dan maak ek tenminste 24 pasteitjies.