GROOTMAAT PIESANGBROOD
Ek het vandag piesangbrode gebak, dit was ongeveer 15 – 20 minute in die oond toe die krag vir 4 ure afgaan. Ek het die brode in die oond gelos en na 4 ure uitgehaal totdat die oond weer op die korrekte grade kan kom en dit verder gebak. Die broodjies het almal in die middel bietjie plat geval, hier is my eindproduk, ek is nogal baie trots op hoe dit lyk onder omstandighede.
- 720 ml melk
- 460 g margarien of botter
- 6 koppies (1.2 kg) suiker
- 8 koppies (1.12 kg) bruismeel
- 8 eiers
- 5 ml sout
- 16 ryp piesangs
- 8 ml koeksoda
- ± 50 ml ekstra melk vir koeksoda
Voorverhit oond tot 190ºC en smeer 5 broodpannetjie van 26 x 11.5 cm (smeer ‘n ekstra kleiner pannetjie indien van die beslag oorbly na die 5 pannetjies volgemaak is).
Verhit die melk en margarien tot gesmelt.
Meng die suiker en meel in groot mengbak.
Klits die eiers en sout saam tot skuimerig.
Skil die piesangs en druk dit goed fyn, voeg die piesangs by die eiermengsel.
Roer die eiermengsel en melkmengsel by die meelmengsel en vou in tot ‘n slap beslag gevorm het.
Week die koeksoda in die ekstra melk en roer dit laaste by die deeg.
Giet die beslag (1 kg deeg per pannetjie) in die gesmeerde pannetjies en plaas in die warm oond.
Bak die broodjie vir 25 minute by 190ºC, stel die oondtemperatuur af na 180ºC en bak nog ‘n verdere 20 – 25 minute tot ‘n toetspen skoon uitkom wanneer getoets word.
Keer die broodjies versigtig uit die pannetjie en laat dit afkoel.
Die broodjie vries baie lekker.
Nota:
Ek maak die beslag in my groot 8 liter menger.
Ek kry 5 broodjies uit, 1 kg rou beslag per pannetjie – pan grootte 26 x 11,5 cm.
Klein pannetjie (oorblywende beslag) – pan grootte 20 x 11,5 cm.
Resep en foto: Jacqueline Viola Smit












