DEEG VIR DEEGWIELE
Hierdie is ‘n maklike vinnige degie wat mens kan maak en dan sommer gebruik om deegwiele mee te maak as jy nie gekoopte deeg byderhand het nie. Dit is ‘n lekker deeg en ek stel voor dat mens hom maar redelik dun uitrol, anders is jou wiele wanneer koud bedien, bietjie te veel deeg en droog.
Ek het die resep iewers gekry en so effens aagepas, hoop julle geniet hom, en kom wys wat het julle alles as vulsel gebruik
Ek het sommer kerrie maalvleis wat oor was gebruik en dit was heerlik. Hoender of kouevleis of enige groente vulsel sal net so lekker werk.
- 250 ml koekmeel
- 10 ml bakpoeier
- 5 ml suurlemoensap
- knippie sout
- 60 ml sagte botter
- 60 – 75 ml melk
- 1 eier
- Vulsel:
- 1 koppie gerasperde kaas
- 1 klein uitjie, fyn gekerf
- 3 – 4 sampioene, fyn gekerf
- 10 ml Worcestersous
- 10 ml soet rissiesous
- 150 – 200 g gaar vleis (hoender, maalvleis, kouevleis gesnipper, gemengde groente)
Sif die meel, bakpoeier en sout saam en vryf die sagte botter in totdat dit soos broodkrummels lyk.
Voeg 60 ml melk by en sny in met ‘n mes tot goed gemeng, indien die deeg te droog is voeg die res van die melk by tot dit ‘n stewige maar hanteerbare deeg is. Voeg die suurlemoensap by en werk net deur. Indien jy jou hande moet gebruik om die deeg bymekaar te bring, werk liggies, moenie oorwerk nie.
Maak toe in kleef plastiek en sit in die yskas vir 30 min.
Klits die eier en hou eenkant.
Braai die uie tot mooi verkleur en voeg die sampioene by. Haal van die stoof af en voeg die res van die bestanddele by, MAAR hou bietjie van die eier om laaste op die wiele te smeer. Meng goed deur.
Voorverhit die oond tot 200 ºC.
Neem die deeg na 30 min en rol uit op lig meelbestrooide oppervlak tot die grote van ongeveer 30 x 20 of bietjie groter. Skep die vulsel op die deeg, maak mooi gelyk, maar los 2 cm op die langkante oop. Rol die rol op van die langkant af, smeer bietjie eier op die laaste langkant en druk die rol mooi vas. Sny die rol in 2 cm skywe en plaas op ‘n voorbereide bakplaat. Verf die bokant met die laaste geklitste eier.
Bak vir ongeveer 20 min tot bros en gaar.
Bedien warm of koud.
Resep en foto: Rina Kleinhans