ZORANA SE BROODPOEDING MET AANPASSINGS
Ek het vandag hierdie broodpoeding gemaak met broodkorsies wat ek afgesny het so rukkie terug, dit in blokkies gesny in in die vrieskas gesit. Vandag hierdie heerlik poeding gemaak. Ek het karamel geursel gebruik en ook bietjie karamel wat ek oor gehad het so tussen die konfyt en botter gesit. Ek het die suiker met xylitol vervang en net ‘n ¼ koppie gebruik. Regtig ‘n wenner.
- 8 snye brood, in blokkies gesny
- 3 ekstra groot eiers, geklits
- 2 koppies volroom melk
- 1 teelepel vanilla- of karamel geursel
- ½ koppie suiker of versoeter, na smaak
- botter
- appelkooskonfyt
- opsioneel: karamel
Plaas die broodblokkies in ‘n gesmeerde oondbak.
Klits die eier, melk, vanilla en suiker goed saam en giet oor die brood.
Stip oral met botter en appelkooskonfyt en karamel indien gebruik
Bak in warm oond teen 180 ºC tot goudbruin, ongeveer 45- 60 minute.
Variasie: Foto 2 en 3
Ek het weer vandag hierdie broodpoeding gemaak met broodkorsies uit die vrieskas. Ek het ook so 125ml stroop van die makataanstukke oor gehad, en ipv konfyt het ek die stroop oor die brood gegooi, lekker baie kaneel oor gestooi, toe die rosyne, dit so bietjie in die eiermengsel in gedruk, en gebak. Ek het die suiker in die melkmengsel ook minder gemaak.
Die rosyne het boontoe gekom, maar was heerlik uitgeswel en sag… bedien met vla… Geniet hom, vinnig en maklik.
Oorspronklike resep: Zorana Zee Vd Berg
Aangepaste resep en foto’s: Rina Kleinhans