WENKE VIR ‘ROYAL ICING’ EN SUIKERKOEKIES
Ek wil graag met julle my ondervinding met ‘Royal icing’ en suikerkoekies deel.
SUIKERKOEKIES
- 500 g (80% vet inhoud of meer) margarien
- 500 g strooisuiker
- 2 groot eiers (large)
- 1 kg gesifte koekmeel
- 1 teelepel sout
- 1 eetlepel geursel
Klits suiker en margarien tot room. Voeg eiers en geursel by en meng goed deur.
Voeg meel en sout by en meng tot goed gekombineer, moenie dit oorwerk nie. Haal die deeg uit die menger, maak plat, deel op in 4. Draai toe in kleefplastiek, verkoel in yskas vir ten minste 2 ure.
Rol uit, druk koekies uit, plaas terug in yskas of vrieskas om op te ferm, verwyder dan koekies en plaas op gespuite bakplate.
Bak teen 180°C vir 10 tot 12 minute, hou jou oond dop want oonde verskil. Dit moet nie bruin word nie.
Laat afkoel, verwyder van bakplaat en versier.
Die hoeveelheid maak ongeveer 100 koekies (8 cm) afhangende van jou koekie drukkers se vorms.
Omdat ek moet voldoen aan die voedsel gesondheids vervaardigings vereistes vir die bak en verkoop van tuisgemaakte produkte hier, waarborg ek die koekies om vars te bly vir 4 maande wanneer geseël is in pakkies.
Deeg kan gevries word.
Hier’s hoe ek maak…
Ek meng 10 kg deeg op ‘n slag, want ek bak so 500+ koekies ‘n week en plaas my deeg net in die yskas en haal uit so 2 ure voor ek gaan uitrol. Ek rol ook my deeg tussen 2 bakmatjies uit, druk my koekies uit, plaas die matjies waarop die koekies uitgerol is op verskillende rakke in vrieskas vir 5 minute, verwyder dan koekies en plaas op bakplate (dit verhoed dat die koekies misvorm).
Dan plaas ek hulle in die yskas tot al my koekies uitgedruk is. (So 12 na 15 bakplate op ‘n slag) Skakel oond aan. (Intussen maak ‘n pot heerlike heuningbos tee met kondensmelk, want dan verdien ek die blaaskansie terwyl ek wag)
Sodra oond temperatuur bereik het dan is dit direk van yskas na oond.
Geen bakpoeier of koeksoda nie.
Geen margarien met minder as 70% vet inhoud nie.
Sif die meel.
STROOIsuiker (Castor sugar) nie gewone suiker nie.
Maak seker jou deeg is goed gemeng, maar moenie dit oorwerk nie.
Wees ‘n bietjie innoverend en gebruik ander geursels. Hou die vanilla vir jou sjokolade koekies.
As jy sjokolade koekies wil maak, vervang vir elke koppie meel, 1 eetlepel meel in ruil vir 1 eetlepel kakao (wat nou ‘n plaas se prys kos).
Versigtig wees vir goedkoop versiersuiker. Party het baie Maizena of strooisuiker in en dan is jou versiersuiker nie reg nie.
Hierdie koekies kan ook met botterversiersuiker versier word, maar gebruik 50/50 margarien en Holsum.
Gebakte (onversierde) koekies kan in lugdigte houers gevries word. Ek dink dit behoort al die vrae te beantwoord.
Mooi en geseënde dag almal… heuningbostee tyd nou dan begin ek my nuwe reeks.
Ek begin by die koekies:
Gebruik altyd goeie graad margarien, dit moenie minder as 70 % vetinhoud bevat nie!
Margarien moet kamertemperatuur sag wees, maar nie loperig nie.
Weeg die strooisuiker af en voeg dit by die margarien. Skakel die menger op stadige spoed aan, dan vinniger tot die mengsel lig van kleur is.
Voeg die eiers by en klits tot dit goed gemeng is.
Voeg die meel in 2 stadiums by en meng tot dit goed gemeng is en nie meer aan die kante van jou mengbak vassit nie (ek gebruik ‘n staanmenger).
Keer die deeg uit op ‘n werksblad, werk die deeg bymekaar en vorm in ‘n lang plat vorm.
Sny die deeg in stukke vir makliker uitrol en plaas die stukke in plastiese sakkies waarvan ek die lug uitsuig. Plaas die deeg in die yskas vir ten minste 2 ure.
Ek maak baie deeg aan en begin die eerstes gebruik wanneer ek die nuutstes in die yskas plaas.
MOENIE meel op die oppervlak strooi nie, jy gaan die deeg se komposisie verander en dan is dit ‘n lollery.
Rol die deeg uit tussen 2 silikoonvelle, druk vormpies uit en vandaar vrieskas toe vir 5 minute.
Haal die koekievorms uit die vrieskas en lig dadelik die vormpies en pak op voorbereide bakplate.
In die somer plaas ek my bakplate eers in die yskas, maar in die winter is dit koel hier, so ek los dit buite. Maak al die bakplate vol (gewoonlik so 18), skakel die oond aan en sodra die oond warm is, bak die koekies tot gaar.
Vir die ‘royal icing’:
Ek meng 2 kg versiersuiker met 100 g Actiwhite en 300 ml water in my staanmenger en meng op medium vir ongeveer 5 minute.
Skep die versiersel in bakkies wat goed seël en plaas dit in die yskas.
Wanneer jy die versiersel wil gebruik, skep dit in bakkies, verdun en kleur na eie keuse.
Gebruik gelkleursel, dit werk die beste.
Onthou net dit gaan oefen vat om die tekstuur reg te kry.
Oefen so:
Skep ongeveer 3 eetlepels vol van die oorspronklike versiersel uit, voeg bietjies, bietjies water by om dit te verdun, nie te dun nie, want dan loop dit van die koekies af.
Hoe minder water jy byvoeg, hoe beter kan jy dit beheer soos vir blommetjies ens.
Oefen, oefen, oefen en geduld, geduld, geduld!
Hou daai bakkies dig toe met of ‘n deksel of ‘n klam lap terwyl jy werk. ‘Royal icing” word gou hard.
Wanneer jy met verskillende kleure begin werk, gee die een kleur kans om eers ‘n kors te vorm op die koekie, voor jy die volgende kleur byvoeg, anders gaan dit inmekaar vloei en nie mooi lyk nie.
Ek het myself geleer jare terug, vreeslike foute gemaak, maar nooit tou opgegooi nie. Vandag is dit my inkomste en passie.
Resep, wenke en foto: Ria Posthumus
Annatjie Klaassen
Ek het gevra vir n suikerkoekie resep en besluit om Ria Posthumus se resep en stap vir stap metode te gebruik. Dit het so mooi uitgekom en dit smaak lekker!! Die sondagskoolkinders het dit versier vir moeders en vadersdag! Baie dankie!!