Your Recipe Blog

WATERBOLLETJIES

| Servings: ± 24 - 36 poffers

WATERBOLLETJIES

Hierdie is ‘n lang verlore resep van ‘n vriendin waarmee ek die kinders kleintyd graag bederf het en ek het vreeslik gesoek na die resep.  Ek was dus baie bly toe ek die resepteboek waarin ek hom neergeskryf het, ontdek eergister en het toe gister sommer vinnig ‘n mengsel gebak om die kleinkinders te bederf.  Nodeloos om te sê, dit was weereens ‘n wenner.

  • Stroop:
  • 500 ml suiker
  • 25 ml suurlemoensap
  • 175 ml water
  • 5 ml kremetart
  • 1 ml sout
  • Poffers:
  • 2 koppies koekmeel
  • ½ koppie melk
  • ½ koppie room
  • 1 eetlepel suiker
  • 1 eier
  • 1 eetlepel bakpoeier
  • knippie sout
  • kookolie vir diepbraai

Kook die stroopbestanddele saam en verkil tot benodig.

Sif die koekmeel, bakpoeier en sout saam.  Klits die eier en voeg die room, melk en suiker by die eier en meng deur.  Voeg die eier-en-melkmengsel by die gesifte meelmengsel en meng deeglik tot ‘n slap deeg.  Verhit die olie tot warm (soos vir vetkoek), maar moenie olie oorverhit nie, anders bak poffertjies te vinnig donker en is dit nog rou binne.
Drup teelepels deeg in warm olie en bak poffers rondom tot goudbruin.
Haal uit met ‘n gaatjieslepel en dompel die poffertjies dadelik in die koue stroop.
Wanneer stroop ingetrek het, haal poffers uit en plaas op ‘n druprak met ‘n skinkbord onder vir die ekstra stroop om af te drup.
Geniet!

Resep:  Marietjie Nel
Foto:  Elma Brittz-Venter

Leave a Review

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

1 2 3 4 5

You cannot copy content of this page