WARM AARTAPPELSLAAI
So, nadat my liefste Ma vir my ’n Wenresepte boek saam Nieu-Seeland toe gebring het, blaai (lees!) ek hulle elke aand oppad bed toe, en maak lysies van vergete disse en geregte wat ek weer wil maak. Dié resep het ons baie as kinders geëet saam met braaivleis…en dit was heerlik. Ek het dit ’n bietjie aangepas, maar dink dis verseker ’n wenner… selfs al is dit somer en warm! Dit is vanaand op die spyskaart saam met boerewors, en gemengde groente in ons huis.
- 6 medium of 8 groot aartappels, in blokkies gesny met skil aan
- 2 uie, in kwarte en dan skywe gesny
- 125 g spek
- 25 ml olie
- 5 ml tiemie
- 125 ml blatjang
- 125 ml asyn
- 250 ml melk
- 20 ml koekmeel
- sout en peper na smaak
Kook aartappels tot sag. Dreineer en hou eenkant.
In dieselfde pot, braai uie en spek tot ligbruin.
Voeg tiemie, blatjang en asyn by en kook twee minute.
Meng melk en koekmeel, en roer by uiemengsel (dit gaan lyk of dit skif, maar soos wat dit opkook, is dit doodreg), terwyl jy heeltyd roer.
Meng warm sous deur aartappels, voeg sout en peper na smaak by.
Bedien warm.
Resep en foto: Ilze Garbers Jacobs