VINNIGE PERSKE KRUMMEL NAGEREG
Uit nood word gewoontlik sommer lekker vinnige resepte gebore, en hierdie een was een van hulle, as mens op die laaste minuut besluit maar jy wil nog ‘n vinnige nagereg ook maak. Ek het ‘n skaapboud in die oond gehad en die oond was nog warm daarom het ek dit so 15 min in die oond gesit dat die krummels met mooi verkleur.
Ek meng altyd hierdie krummelmengsel van Petro Borchard, en omdat ons net twee mense is, hou ek dit in die yskas en maak dan net twee ramekin bakkies poeding wanneer ons iets lekker soek om te eet met vrugte wat ek byderhand het.
- Krummelmengsel
- ¾ koppies koekmeel
- ½ koppie wit suiker + 1/4 koppie bruin suiker
- ¾ koppie gekapte pekanneute
- 6 eetlepel botter
- ¼ teelepel sout
Plaas alles in ‘n mengbak en vryf tot growwe krummels en gebruik oor enige vrugte.
Bere in ‘n lugdigte houer in die yskas as jy nie alles op een slag gebruik nie.
- Ander bestanddele na gelang van die hoeveelheid porsies:
- Marie beskuitjies
- geblikte halwe perskes met die stroop
- bietjie gekapte “mint” witsjokolade
- gekoopte vla of self gemaak
Neem ramekin bakkies, plaas onder in elke een ‘n Marie beskuitjie, skep ‘n klein bietjie van die krummelmengsel oor die koekies, sit ‘n halwe perske bo-op elke koekie, skep bietjie stroop oor die perske, sprinkel ‘n lekker dik laag van die krummelmengsel oor die perske. Sprinkel van die gekapte witsjokolade oor en bak in die oond vir 15 – 20 min by 180ºC. Net tot hy lekker borrel en die krummels bietjie verkleur het.
Bedien met vla.
Resep en foto: Rina Kleinhans