VINNIGE MELKTERT MET KORS SONDER EIER
Hierdie is ‘n wenresep wat jare terug in ‘n tydskrif verskyn het.
- Kors:
- 250 ml ongesif afgemeet koekmeel
- 30 ml mielieblom (Maizena)
- 30 ml versiersuiker
- ‘n knippie sout
- 125 g botter of margarien
- Vulsel:
- 800 ml melk
- 2 eiers
- 130 ml suiker
- 60 ml koekmeel
- 60 ml mielieblom (Maizena)
- ‘n knippie sout
- 15 ml botter of margarien
- 5 ml vanilla geursel
- gemaalde kaneel
Voorverhit oond tot 180°C. Bespuit ‘n ronde oondvaste tertbak met kleefwerende kossproei.
Maak die kors:
Sif koekmeel, mielieblom, versiersuiker en sout saam.
Vryf botter daarin tot dit ‘n deeg vorm.
As die mengsel droog is, voeg klein bietjie melk by.
Druk deeg op die bodem en teen die kante van die tertbak vas.
Prik goed met ‘n vurk en bak 10 tot 15 min lank tot gaar en goudbruin.
Maak die vulsel:
Verhit die melk tot kookpunt.
Klits die eiers goed, voeg die suiker by en meng.
Voeg koekmeel, mielieblom en sout by die eiermengsel en klits goed.
Klits helfte van die kookmelk in ‘n straaltjie by die eier-mengsel.
Skep die mensel terug in die kastrol. Verhit oor matige hitte en roer aanhoudend tot mengsel dik is.
Haal van die stoof af en voeg die botter en vanilla geursel by, meng goed.
Skep die gaar vulsel in die kors en strooi kaneel bo-oor.
Nota – Rina Kleinhans
Hou maar net aan met meng, die botter in die korsdeeg smelt van jou hande se hitte en dan kom dit baie mooi bymekaar, ek het nie enige melk nodig gehad nie. Hou sommer die deeg so in jou hand toe en werk dan weer deur.
Om te verhoed dat die kors krimp wanneer jy dit bak, moenie die deeg te veel rek wanneer jy dit teen die kante uitdruk nie, en plaas die pan met die kors eers vir ‘n halfuur in die yskas voor jy dit bak.
Resep geplaas deur en foto: Amanda Austen