TURKSE LEKKERS
Gewoonlik het ‘n mens ‘n lekkergoed termometer nodig as jy lekkergoed maak, maar met Turkse lekkers is dit nie ‘n vereiste nie. Dit is omdat die vloeistof gekook en geset word met gelatien. Maar versigtig: Te veel rooswater of te veel suurlemoensap kan dit bederf. En onthou: die suiker moet opgelos wees voordat dit gekook word.
- 30 ml (2 eetlepels) gelatien
- 60 ml (¼ koppie) water
- 500 ml (2 koppies) suiker
- 30 ml (2 eetlepels) mielieblom
- 200 ml (¾ koppie) water
- 3 ml (½ teelepel) rooswater
- ‘n druppel rooi kleursel
- 30 ml (2 eetlepels) versiersuiker
- 30 ml (2 eetlepels) mielieblom
Week die gelatien in die water en hou oor kookwater om op te los maw te spons. Moenie kookwater gebruik nie.
Meng die suiker en mielieblom in ‘n kastrol. Voeg die 200 ml water by en roer oor lae hitte totdat die suiker opgelos is.
Kook sowat 5 minute oor stadige hitte. Verwyder van hitte en voeg die rooswater, kleursel en gelatien by.
Skep uit in ‘n gesmeerde bak of pan van omtrent 14 x 23 cm. Laat staan vir sowat 8 uur of tot styf en sny dan in blokkies, omtrent 2 cm in grootte.
Rol in mengsel van gelyke dele versiersuiker en mielieblom.
Bêre in ‘n lugdigte houer vir omtrent 2 weke.
Foto: Elaine Van Staden Ras
Lerina van der Linde:
Ek het al hierdie een op die blog gemaak. Dit is die maklikste resep en kom vreeslik lekker uit!
Dis baie taai as dit net gestol is, so sny lang repe en rol dit dan in die versiersuiker/maizena, en dan kan jy die blokkies sny en weer rol. Regtig maklik en lekker!