TUISGEMAAK TAMATIEPUREE
Ek het Annette Human se tamatiepuree probeer en is baie in my skik. Sal definitief weer al die moeite doen.
Kook water in ‘n groot pot op die stoof en dompel die tamaties, soveel soos verkies in die water.
Verwyder die tamaties uit die kookwater en trek die skilletjies af.
Kap die tamaties fyn in ‘n voedselverwerker, plaas die fyn tamaties in ‘n groot genoeg kastrol en verhit op medium hitte tot kookpunt.
Kook die tamaties op medium tot lae hitte tot 2/3 van die oorspronklike hoeveelheid verminder het, roer elke nou en dan om aanbrandsel te voorkom.
Giet die gekookte tamatie in ‘n sif, en roer met ‘n gaatjieslepel om nog van die vog te dreineer, behou die vog en plaas dit eenkant.
Plaas die dreineerde tamaties weer in die voedselverwerker en maak nog fyner.
Sterilliseer glasbotteljies en deksels volgens jou keuse, ek het dit in die oond geplaas by 100ºC vir 10 minute.
Plaas die fyn tamatiepuree weer in die pot en warm op tot kookpunt, draai die hitte af en bottel die puree warm in die gesterilliseerde bottels en seël dadelik met die deksels.
Notas:
Jy kan die bottels in ‘n waterbad seël indien verkies.
Onthou, 50 ml vars tamaties is gelykstaande aan 15 ml tamatiepuree.
Die vloeistof wat deur die sif gedreineer het, is dikkerig en proe nes tamatiesap!
Resep getoets en fotos: Hannie Steyn