TROEPIEKOEKIES
Marie Willemse
Die troepekoekies wat ek en my ma altyd gebak het vir my 3 broers op die grens, kry alles in. Ons het soms die “Rice Crispies” vervang met opgebreekte “Corn Flakes”. Die resep lewer 11 tot 12 dosyn. Ongelukkig het ek nie ‘n foto nie, maar dit was baie gewild onder die manne op die grens, hul het sommer bestellings geplaas, maar ons het altyd ekstra saam gestuur vir hulle. Dit het hul sommer nuwe krag gegee, soos hul dit gestel het in hul dankie briewe.
- 5 x 250 ml koekmeel
- 4 x 250 ml klapper
- 3 x 250 ml hawermout
- 250 ml semels
- 250 ml gekapte neute van eie keuse, grondboontjies kan ook werk
- 5 ml sout
- 4 x 250 ml suiker
- 500 g botter of margarien
- 4 eiers
- 10 ml vanilla geursel
- 50 ml heuning of goue stroop
- 20 ml bakpoeier
- 15 ml koeksoda
- 4 x 250 ml “Rice Krispies” of “Corn Flakes”, bietjie gebreek
Voorverhit die oond tot 180°C en plaas die oondrak in die middel van die oond.
Smeer of spuit bakplate met kleefwerende kossproei.
Meng die koekmeel, klapper, hawermout, semels, neute en sout saam in ‘n groot skottel of mengbak.
Verroom die botter en suiker in ‘n ander mengbak en voeg die eiers en vanilla geursel by en meng goed.
Voeg die eier- en bottermengsel by die meelmengsel en meng deur.
Verhit die heuning of goue stroop effens in ‘n groterige pot, verwyder van die hitte en en roer die bakpoeier en koeksoda by die louwarm heuning of stroop, oppas dit skuim en rys.
Voeg die heuningmengsel by die meelmengsel en meng halfpad.
Voeg die ontbytpap van eie keuse by die meelmengsel en roer versigtig sodat die ontbytpap nie breek nie.
Rol balletjies so groot soos ‘n golfbal en plaas die balletjies 5 cm uitmekaar op die bakplaat.
Moenie die balletjies platdruk nie, dit versprei self wanneer dit bak.
Bak die koekies vir 18 tot 20 minute in die voorverhitte oond of tot lig bruin.
Laat die koekies afkoel op die bakplaat vir 10 minute en skep die koekies uit die bakplaat na ‘n afkoelrak en laat dit heeltemal afkoel.
Bewaar in lugdigte houers.
Resep: Chrystell Mollentze en Marie Willemse
Foto: Heidi Rowe