TESSIE SE MELKTERT
Hierdie resep was my Ma se resep … ek het grootgeraak met die lekker melktert. Dis elke keer ‘n groot sukses.
- Kors:
- 1 koppie koekmeel
- ¼ koppie suiker
- 125 g margarien (botter as jy het, ek glo daaraan)
- 1 eier
- 3 teelepels bakpoeier
- knippie sout
Klits die margarien/botter en suiker saam tot romerig. Voeg dan die eier by en klits tot gemeng. Meng die meel, sout en bakpoeier saam in die botter-en- eiermengsel in en roer met lepel in tot goed gemeng. As die deeg te styf is, voeg ‘n klein bietjie melk by. Dit moet ‘n smeerbare deeg wees. Smeer ‘n losboompan of panne met die deeg tot heelbo aan die rand van die pan.
- Vulsel:
- 1 liter melk
- 6 eetlepels suiker
- 1 eetlepel margarien
- 2 eiers (gele en witte geskei)
- ½ koppie melk
- 4 eetlepels Maizena
- 2 eetlepels koekmeel
- 1 eetlepel vanilla-/amandelgeursel
Kook die melk, suiker en margarien saam. Klits die eiergele saam met die ½ koppie melk. Voeg die Maizena en koekmeel by die eier- en melkmengsel en meng dit. Voeg hiérdie mengsel by die melkmengsel en roer aanhoudend om klonte te voorkom. Kook hierdie mengsel tot dit heeltemal dik is.
Klits die eierwitte styf en hou dit eenkant. Wanneer die vulsel styf genoeg gekook het, verwyder van die plaat en vou die vanilla of amandelgeursel by en vou hierna die styfgeklopte eierwitte in.
Giet die vulsel in die rou smeertertkors, bak teen 180 ºC of effens koeler, tot die rand van die deeg bruin gebak het. Dis belangrik dat die gaar vulsel in die rou smeerkors gebak word.
Wanneer deegrand bruin is, haal uit die oond en strooi kaneel bo-oor.
Foto en resep: Kokkedoor Tessie Els Kemp
Hierdie is presies soos my ma se resep!!! My man het altyd gesê dis die heel lekkerste melktert vir hom