Your Recipe Blog

TANT LIZZIE SE LIGTE VRUGTEKOEK

Avatar photo
Recipe by
Cook: 1 uur 30 minute

TANT LIZZIE SE LIGTE VRUGTEKOEK

Ek deel hierdie resep van my ma se Tannie Lizzie met almal wat nie mal is oor ‘n donker vrugtekoek nie, maar graag iets feestelik wil bak. Dit is die vrugtekoek waarmee ek grootgeword het, ‘n ligte vrugtekoek, gegeur met drie verskillende sitrus geure; lyk pragtig en smaak heerlik en dis baie lig, so dis heerlik vir ‘n warm somervakansie. En dis dadelik reg om te eet! My ma het hierdie vrugtekoek al langer as ‘n jaar in die yskas gehou, as jy dit net soos ‘n gewone vrugtekoek bietjie “feed” met brandewyn (of nog beter, ‘n lemoen gegeurde alkohol). En sou daar oorbly, maak dit ‘n ongelooflike trifle.

  • Vrugtemengsel:
  • ½ koppie lemoen gegeurde alkohol (Triple Sec)
  • 3 eetlepels brandewyn/whiskey
  • 250 g elk rooi en groen kersies, in kwarte gesny
  • 250 g geglasseerde skil (peel)
  • 250 g sultanas
  • Koekbeslag:
  • 125 g botter
  • 1 koppie strooisuiker
  • 4 eiers
  • 3 koppies koekmeel
  • 2 teelepels bakpoeier
  • ½ teelepel sout
  • ¾ koppie lemoensap
  • 1 teelepel suurlemoen geursel
  • 1 teelepel gerasperde lemoenskil
  • Vir bo-oor:
  • 100 ml brandewyn/whiskey
  • 100 ml lemoensap
  • 50 ml suurlemoen likeur, opsioneel

Week die sultanas, kersies en skil oornag in die alkohol (bedek die houer met ‘n deksel/clingwrap).
Room botter en suiker tot lig. Voeg eiers een vir een by en roer mengsel na elke byvoeging.
Klits tot romerig en donsig. Voeg meel, bakpoeier en sout by, en roer een keer deur.
Voeg lemoensap, suurlemoen geursel en gerasperde skil by, en roer nog ‘n keer deur.
Gooi enige oorblywende alkohol van die vrugte af (hou eenkant), en roer vrugtemengsel en so 2 eetlepels van die gereserveerde alkohol by, totdat die mengsel heeltemal deurgemeng is.

Verdeel tusen twee broodpanne wat uitgevoer is met bakpapier, en gespuit is.
Bak 1 ½ uur by 150°C, tot ligbruin bo-op, en ‘n mes wat jy indruk skoon uitkom.
Druk gaatjies in koek met ‘n sosatiestokkie.
Meng enige van die oorblywende alkohol met die whiskey, lemoensap en suurlemoenlikeur, en gooi bo-oor koek sodra dit uit die oond kom.
Laat afkoel, sny en bedien. Bêre oorblywende koek in die yskas, toegedraai in kleefplastiek en foelie.
Bedruip met alkohol/lemoensap van jou keuse.

Nota:
Jy kan geglaseerde fyn gesnyde gemmer/vye/waatlemoen etc gebruik by jou vrugtemengsel.
Die vrugtekoek kan ook gevries word.

Resep en foto: Ilze Garbers Jacobs

Leave a Review

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

1 2 3 4 5