TANT HELIE SE MELKTERT
Hierdie resep is in 2009 gekroon as Sarie Kos se melktert wenresep. Ek het die resep Saterdag getoets om dit op ons blog te plaas. Ek het egter nie die skilferkors self gemaak nie, want dit is net heeltemal te veel werk. Mens kry heerlike skilferdeeg te koop en ek het kortpad daarmee gevat.
- Mengsel 1:
- 75 ml koekmeel
- 50 ml mielieblom
- 50 ml suiker
- 1 ml sout
- 125 ml melk
- Mengsel 2:
- 2 eiergele
- 25 ml suiker
- 2 druppels “egg yellow” kleursel
- 4 druppels amandelgeursel, opsioneel
- 7 ml vanilla
- Mengsel 3:
- 2 eierwitte
- ½ ml kremetart
- 25 ml suiker
- Mengsel 4:
- 550 ml melk
- 10 ml botter
- 2 stukke pypkaneel
- fyn kaneel
- 1 geklitse eier of eiergeel
Verhit die oond tot 260ºC en plaas die oondrakkie op die tweede vlak van onder.
Uitvoer van pan:
Spuit ‘n 24 cm tertpan of ‘n blikbord (verkieslik) met Spray en Cook.
Sny ‘n sirkel uit die deeg effens groter as die pan of bord en voer pan daarmee uit.
Smeer met ‘n lagie water sodat die 2 dele tertdeeg bynmekaar sal bly.
Sny nou 1 cm stroke uit die oortollige deeg en plaas bo-op die rand van die tertbord.
Bestryk die boom van die tertkors met bietjie eierwit en hou in die yskas tot benodig.
Plaas al die bestanddele van mengsel 1 in ‘n middelslag mengbak en meng tot glad. Hou eenkant.
Plaas al die bestanddele van mengsel 2 in ‘n klein bakkie en klits tot goed gemeng. Hou eenkant.
Plaas die bestanddele van mengsel 3 in ‘n medium bak en klits tot die eierwitte styf is. Moenie te droog klits nie.
Sodra die oond warm is, verhit die melk, botter en pypkaneel (mengsel 4) tot kookpunt.
Voeg die warm melkmengsel by die meel en melkmengsel (mengsel 1) en roer tot glad.
Giet die warm mengsel nou weer terug in die pot, roer en kook tot dik. Haal af van die plaat.
Giet die dik melkmengsel nou weer terug in die medium mengbak en verwyder die kaneel.
Voeg die eiergeel mengsel (mengsel 2) by die melkpap en roer goed deur.
Vou die styfgeklitste eierwit (mengsel 3) liggies in die melktertpap in.
Giet nou die melktertpap in die tertkors – strooi bietjie kaneel oor indien verkies.
Verf geklitste eier of eiergeel oor die kors wat rondom die tertbak uitsteek.
Bak by 260ºC vir 10 minute en verlaag daarna die hitte tot 200ºC en bak vir ‘n verdere 10 – 20 minute totdat die kors mooi bruin en gaar is.
Bedien louwarm of soos verkies.
Resep vanuit Sarie Kos, 2009 gemaak deur Deona Tait
Foto: Bernadene Prinsloo