SUKSES ROOMPOFFERTJIES
Ek maak altyd die resep en dit flop nooit nie. As ek dit warm maak nadat ek dit uit die vrieskas gehaal het proe dit vars gebak
- Choux beslag:
- 250 ml water
- 250 ml koekmeel, gesif
- 125 g botter of margarien, geskik vir bak
- knypie sout
- knypie suiker
- 4 eiers
Verhit oond tot 200 ºC.
Voer twee of drie bakplate met botterpapier uit, ek spuit net met Spray ‘n Cook.
Meng water, botter, sout en suiker in ‘n kastrol totdat dit kook.
Sodra die water kook moet al die gesifte meel gelyk in die water ingeroer word. Roer heeltyd vinnig met ‘n houtlepel totdat beslag loskom van die rand van die kastrol en een groot bol maak. Haal kastrol van die warm plaat af en laat effens afkoel. Skep beslag in ‘n mengbak en roer die eiers een-een baie goed in. Jy kan ‘n voedselverwerker gebruik, maar ‘n sterk arm is goed genoeg. Die beslag is gereed wanneer die blink en syerig is en maklik uit ‘n versiersak gespuit kan word. Ek gebruik twee teelepel, want ek vind dit werk net makliker.
Skep beslag in versiersak en spuit met ‘n 1 cm, klein poffertjies 2,5 cm hoog op bakplate uit. Ek skep met 2 teelepels die beslag in een teelepel en met die ander teelepel vorm ek hom op die bakplaat.
Bak sowat 25 tot 30 min tot goudbruin en opgepof en bros.
Laat afkoel. Jy kan hulle nou vries tot benodig of vul en eet.
Haal uit die vrieskas en pak op bakplate om effens te ontdooi. Verhit oond tot 140 ºC en plaas poffertjies 15 min terug in die warm oond sodat dit bros kan word. Sny oop of steek ‘n gaatjie daarin en vul met styfgeklopte room of bakkersvla.
Sif versiersuiker oor of smelt sjokolade en giet bo oor.
Resep geplaas en foto: Zelda Tolsma