Vandag verlang ek na almal wat lankal dood is en ook na my mammie wat nog leef. Ek het al groenbone op baie maniere gemaak. In bondeltjies met spekrepe om, geblansjeer, heel met growwe sout, swartpeper, botter en kruie. Ek het nooit die moed gehad om gewone Sondagmiddag groenbone te kook nie. Altyd geglo dit, soos die Hemel, is vir gewone mense verborge. Net spesiales soos my ma en ouma kon dit regkry dat kinders bone eet.
My tand breek vanmore regdeur by ‘n kongres met ‘n toebroodjie! Dis moer seer. Ek is jammer vir myself en verlang na die dooies en oues van dae. Die tandarts boelie my mond, trek die tand en sê ek moet ‘n inplantaat kry. Ek mag g’n harde kos eet nie. Ek stop by Woolworths voor ek apteek toe ry vir pynmedisyne, sien, eet is vir my soos bid! Ek moet dit net eenvoudig doen! Ek dog jellie, of Cream Caramel.
- 1.6 kg groenbone
- 4 groot aartappels, in blokkies gesny
- 3 uie, gekerf
- 2 teelepels botter plus ekstra
- fyn knoffel en
- gemmer, gekap
- sout en witpeper na smaak
- 2 sakkies gekonsentreerde groenteaftreksel
Flip daai. Ek gryp peperduur groenbone en aartappels. Ek blaai in my gedagtes na die onthoubladsye van hulle vir wie ek lief is en was. Mens Kan mos bone sag kook! Wie verkies dan nou jellie. Om sonder vleis deur die dag te gaan is klaar heiligs kennis.
Ek sien hoe my oupa met die groot mooi hande waarin hy ‘n roosknop kon waardeer en waarmee hy kon pikslaan vir my ouma die bone “afmaak”. Die 2 punte moet waai, die harde middelste aartjie en dan word hulle mooi eweredig gesny. Ek gryp my biltongkerwer. Ek is seker die ding kan die werk doen (heimlik hoop ek seker vir ‘n geelvetbiltong smakie by die groenbone) (1,6 kg se bone, ek is honger!)
Ek sny die 4 groot aartappels in klein blokkies. Ek verlang so dat ek in plaas van my grênd LeCreuset potte ‘n Hart pot onder die wasbak opdiep.
Ek gooi die bone in soutwater en kook hulle half sag op 6. 6 en 3. Ek onthou die stoofsettings so goed. Ek braai die uie en botter, knoffel en gemmer eenkant in ‘n pan tot glaserig. Dit gee altyd ‘n heerlike geur aan enige ding. Ek dink botter is die gode se gunsteling kook present.
Toe die bone en die aartappels rinkel in die pot is dit of die liewe mense almal saam my om my stoof staan.
Met die water weggekook, die bone en aartappels sag, gooi ek die hemelse gebraaide ui en knoffel by. Dis of die ui ‘n onthou raam wil losbrand. Net so vir die troos gooi ek 2 sakkies gekonsentreerde groente-aftreksel en nog ‘n homp botter by. Ek laat loop met die witpeper. Ek kan nie onthou dat my ma of ouma ooit swartpeper in bone gebruik het nie. En daar is hy waaragtig in my eie Hart pot op my stoof in Johannesburg. My ouma en ma se stukkie hemel-bone.