STAMPMIELIE- EN KAASBALLETJIES
Agter os kom ook in die kraal… almal het so lekker kapokaartappel en papballetjies gemaak dat ek besluit het om vandag saam met ons braaivleis vir ons stampmielie en kaas balletjies te maak. Dit is regtig ‘n lekker manier om ek dink enige stysel op te gebruik.
- 1.5 koppies gaar stampmielies
- 1 eier
- ½ koppie gerasperde Cheddar kaas
- sout en peper na smaak, indien nodig
- gekoopte broodkrummels
- olie vir diep braai
Druk die stampmielies lekker fyn en meng die eier en kaas daarin. Proe of dit sout genoeg is, en pas aan indien nodig.
Sit broodkrummels in ‘n aparte bakkie en gooi bietjie op ‘n groot bord. Maak bolletjies met jou hande en rol die bolletjies in die krummels tot dit nie meer aan jou hande vassit nie en ‘n mooi stewige bolletjie vorm. Plaas die bolletjies op die krummels in die bord in ‘n enkel laag.
Plaas die bord in die vrieskas vir ongeveer 20 min.
Sit genoeg olie in ‘n kastol op die stoof en laat warm word, maar nie rook warm nie. Plaas die bolletjies een-een in die olie, maar moenie die olie laat afkoel nie, wag dat die olie eers weer borrel voor jy die volgende een insit. Moenie roer of draai voor hulle nie mooi bruin begin word nie, draai die bolletjies en wanneer hulle mooi goud bruin is rond om, skep uit met ‘n gleuf lepel en plaas op kombuispapier. Hulle is heerlik bros en krakerig… bedien so gou moontlik.
Lekker eet.
Resep en foto: Rina Kleinhans