Your Recipe Blog

SPINASIE QUICHE

Recipe by
Cook: 40-50 minute | Servings: 6

SPINASIE QUICHE

Ek was gisteraand lus vir ‘n quiche maar het net spinasie gehad. Niks fancy nie. Ek het nou al een ding geleer van ‘n ordentlike quiche – genoeg tyd. Dit wil nie gejaag word nie, anders word jy teleurgestel. So hierdie een is baie maklik, maar weereens gee jouself genoeg tyd. ‘n Quiche word met liefde en geduld gemaak.  Hierdie lewer ‘n lekker groot quiche – maak seker jou bak is groot genoeg.

  • 200 g koekmeel
  • 100 g botter
  • 45 ml yskoue water

Gebruik ‘n voedselverwerker om die taak te vergemaklik. Meng die meel en botter totdat die botter goed ingesny is. Voeg water by en pols om die deeg net te bind. Moenie oorwerk nie.
Met die hand: rasper die botter grof en vryf in die meel. Voeg water by en sny met ‘n mes in tot lekker gemeng. Bêre in ‘n plastiese sakkie in die yskas vir minstens 30 minute. Terwyl die deeg rus maak die vulsel.

  • 250 – 375 ml gaar spinasie – maak seker die water is lekker uitgedruk
  • 1 groot ui, opgesny
  • 15 ml olie of botter
  • 20 ml koekmeel
  • 300 ml melk
  • sout en peper
  • 2.5 ml neutmuskaat, opsioneel
  • 4 eiers, geskei
  • 1 koppie gerasperde kaas

Verhit olie/botter in ‘n groot pan. Voeg spinasie en uie by. Roerbraai tot goed gemeng.
Voeg koekmeel by en meng goed deur. Voeg melk by en maak ‘n witsous in die spinasiemengsel.
Voeg sout, peper en neutmuskaat by.
Haal van die hitte af en laat afkoel (minstens 20 minute).
Meng eiergele en roer by spinasie in.
Klits eierwitte tot styf en vou in die spinasiemengsel in.
Voorverhit die oond tot 180°C.
Haal deeg uit die yskas en rol uit op mielieblom (maizena).
Sny ‘n ring so 2-3 cm groter as die  tertbak wat jy gaan gebruik.
Plaas die deeg binne in die bak en prik die deeg.
Skep die spinasiemengsel versigtig in die deeg.
Bak in die oond vir 30-40 minute.
Haal uit die oond, strooi kaas bo-oor en bak ‘n verdere 10 minute.

Nota:
Nou die groot geheim. Tyd. Laat staan die quiche vir ten minste 30 minute voordat jy dit bedien.

Resep en foto: Bernadene Prinsloo

Leave a Review

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

1 2 3 4 5

You cannot copy content of this page