SOETKOEKIES MET “ROYAL” VERSIERSEL
- 225 g botter, kamertemperatuur
- 225 ml suiker
- 5 ml vanilla geursel
- 2.5 ml amandel geursel
- 1 eier, kamertemperatuur
- 10 ml bakpoeier
- 675 ml koekmeel
- Royal Icing:
- 2 eierwitte
- 10 ml suurlemoensap
- 350 g versiersuiker, gesif (ongeveer 675 ml)
- gelkleursel, opsioneel
Verhit die oond tot 180 ºC. Plaas bakpapier op 2 bakplate en hou eenkant.
Verroom die botter en suiker goed saam. Voeg die eier en geursel by en meng goed.
Sif die meel en bakpoeier saam, en voeg koppie vir koppie by die bottermengsel. Meng stadig by, net totdat die meel ingemeng is. Moenie te veel meng nie.
Keer die deeg uit op ‘n meelbestrooide werksoppervlak, en druk dit aanmekaar vas.
Rol die bal deeg uit – so 6 mm dik.
Sny koekies uit en plaas op die voorbereide bakplaat. Bak vir ongeveer 8 minute, net totdat die koekie effens bruin word aan die kante.
Haal die bakplaat uit die oond, en plaas op ‘n draad rakkie om bietjie af te koel. Na so 3 minute kan jy die hele vel bakpapier met koekies en al uit die bakplaat skuif en op die rakkie sit.
Laat die koekies heeltemal afkoel voordat jy hulle versier.
Die deeg wat tussen die koekies oorbly kan weer vasgedruk en uitgerol word om meer koekies te maak.
Resep lewer ongeveer 30 koekies wat 6 – 7 cm groot is.
Royal Icing
Meng die eierwit en suurlemoensap saam net totdat dit begin skuim. Voeg die versiersuiker by en meng op lae spoed totdat dit glad is.
As jy die klitser oplig, moet die versiersel wat terugval in die bak so 12-15 sekondes neem om te integreer. As dit langer as 15 sekondes neem, voeg meer versiersuiker by, een lepel op ‘n slag. As dit minder as 12 sekondes neem, roer water by, 2 ml op ‘n slag.
Ek kleur die versiersel met gelkleursel en gooi dit in ‘n spuitsakkie. Sny ‘n klein punt af – so 2 mm in deursnee.
Spuit eers ‘n randjie om die koekie, dan vul jy die binnekant. Gebruik ‘n tandestokkie om enige lugblasies te bars.
Laat die versiersel heeltemal droog word voordat jy die koekies in ‘n blik pak.
Resep en fotos: Debbie Edwards
Category: