SOET SUUR WORTELS OF KOMBINASIE VAN GROENTE
Ek het hierdie soet-suur wortels die naweek gemaak met wortels vars uit my groentetuin. Dit is ‘n heerlike resep – nie so erg suur soos wat piekels gewoonlik is nie. Dis soos daardie Duitse groot ronde bottels wortels en ertjies wat te koop is.
- Wortels, in ringetjies of lang stukke. Lig gaar gestoom of gekook en baie goed gedreineer. (Kan ook ander groente gebruik)
- Asynmengsel:
- 2 koppies wit asyn
- 1 koppie wit suiker, roer by asyn tot opgelos
- 7 kruie naeltjies
- 2 – 3 steranys
- 1 eetlepel peper korrels
- 5 lourierblare
Kook die sous bestanddele 5 minute lank saam, sit plaat af en laat vir so 15 minute lank staan vir die kruie geure om te ontwikkel.
Giet die sous deur ‘n sif en sit bietjie van alle die kruie en speserye onder in jou gesteriliseerde bottels (ek doen dit nie). Bring jou asyn mengsel weer tot kookpunt.
Vul die bottels met die gaar warm groente, vul die bottels met die kokende asynmengsel, kry lugblasies uit met ‘n sosatiestokkie en verseël.
Los vir 3 weke vir geure om te ontwikkel voor dit geëet word.
Bewaar in die yskas nadat dit oopgemaak is.
Resep en foto: Petro Borchard