SOET-SUUR HOENDER MET APPELKOSE
Hierdie hoender is regtig heerlik, mens kan die meelmengsel met water aanmaak en die hoenderstukkie in die deeg doop voor jy hulle braai, maar ons verkies dit net soos hieronder.
- 6 – 7 ontbeende hoenderborsies, in repies gesny
- Meng die volgende saam:
- 1 koppie bruismeel
- ½ koppie Maizena
- sout en peper na smaak
- 1 teelepel hoenderspeserye
- Ekstra:
- 1 klein blikkie ingelegte appelkose, gedreineer, hou die stroop
- kookolie om in te diep braai
- Sous:
- 135 ml bruinsuiker
- 135 ml tamatiesous
- 300 ml witasyn
- ½ teelepel sout
- 1 koppie appelkoosstroop uit die blikkie, of meer
- 3 eetlepels Maizena, aangemaak met 200 ml water
Plaas al die sousbestanddele in ‘n groterige pot op die stoof, en laat kook, draai die plaat laer en laat stadig prut solank jy die hoender voorberei. Die asyn smaak en ruik baie sterk, maar kook af soos dit kook. Indien die sous te dun is, sit nog bietjie Maizena aangemaak met bietjie water by en prut. Dit moet ‘n klewerige sous wees, sodat dit lekker aan die hoender kan vassit.
Maak genoeg olie lekker warm om te diepbraai. Doop die hoenderstukkies in die meelmengsels en diepbraai vir ‘n rukkie, dit sal nie vreeslik bruin word nie, maar ‘n mooi kleur kry. Skep uit en doen die volgende stukkies hoender tot almal gaar is, ek het dit in twee “batches” gedoen.
Wanneer al die hoender gaar is. Skakel die hitte onder die sous af, skep die appelkose in die sous, roer deur en skep die gaar hoenderstukkies ook in die sous. Meng deur en sit ‘n deksel op. Ek het die pot met deksel in die oond op 140ºC gesit vir ongeveer ‘n half uur om warm te bly, moenie weer kook nie.
Bedien saam met Basmatie rys en ertjies.
Sout Vetkoekies – Indien verkies om nie die meel weg te gooi nie.
Voeg 1 teelepel bakpoeier by die meelmengsel wat oorgebly het, klits 1 eier en bietjie melk en meng met die meelmengsel. Skep lepels vol deeg in die warm olie tot die vetkoekies gaar is. Olie moenie te warm wees nie.
Skep uit op kombuispapier en bedien soos verkies.
Resep en foto: Rina Kleinhans