SKAAPLIESROL MET SPEK
Ek is so bevoorreg om soms my geslagte lam van die plaas af te kry, en hierdie keer was die ribbetjies heel. Ek het toe die twee lieslappe afgesny van die ribbetjies af en die rol gemaak daarmee. Ons is net twee mense so die klein rolletjie gebraai op die kole was heerlik. Die pienk is van die spek, hy was mooi deur gaar maar nog heerlik sappig.
Ek maak hom gewoonlik die aand voor die tyd dat die geure kan trou.
- 1 of 2 lieslappe, alle vliese en senings verwyder
- basiliekruid pesto
- Jalapino jellie
- vars knoffel, baie fyn gekap
- sout en swart peper, na smaak
- repies spek
- songedroogte uie
- Feta kaas
- Dijon mosterd
Sit die liesvleis mooi plat neer op ‘n skoon oppervlak en smeer die vleis lekker met die pesto en Jalapino jellie. Sprinkel met sout en peper, maar onthou die spek en Feta is sout, so wees versigtig vir teveel. Sit ook die knoffel mooi verspreid bo-op.
Pak nou die hele stuk toe met spek, sprinkel die songedroogte uie oor, en dan die Feta grof gekrummel.
Rol op van die kort kant af, lekker styf, en maak vas met toutjies, dat alles bymekaar bly.
Smeer die buitekant ligtelik met mosterd.
Sprinkel sommer mildelik growwe swart peper oor die hele rol, en nog bietjie sout.
Draai die rol styf toe in kleefplastiek en plaas in die yskas vir so lank moontlik.
Braai stadig op medium kole sodat die spek en alles aan die binnekant lekker gaar kan word en die kaas kan smelt.
Haal van die vuur af, maak toe in foelie en laat rus so 10 minute.
Verwyder die toutjies, sny in skywe en bedien.
Nota:
Jy kan die rol heeltemal laat koud word en ook lekker dun skyfies sny en bedien of saam met ‘n lekker vars broodjie bedien. Sien foto 2.
Resep en foto: Rina Kleinhans













