SJOKOLADE RISSIE FUDGE
As jy lus is vir ietsie anders, probeer gerus hierdie sjokolade rissie fudge. Ons is baie lief vir rissies (ons glo dit is gesond) en het die resep aangepas na ons smaak.
- 2 koppies witsuiker
- ½ koppie onversoete donker kakao
- 1 koppie volroommelk
- 1 teelepel rissiepoeier
- 1 teelepel rissievlokkies
- ½ teelepel sout
- 4 teelepels sagte botter
- 1 teelepel vanilla ekstrak of -geursel)
Voer of smeer ‘n bak van 5 x 15 cm met bakpapier of smeer met botter. Hou eenkant.
Plaas die suiker, kakao, sout, rissiepoeier, rissievlokkies en melk in ‘n medium grootte pot.
Meng liggies met ‘n bol klitser en verhit oor stadige hitte totdat die suiker opgelos het. Roer net af en toe totdat dit kook.
Vul jou wasbak of ‘n bak met koue water (ongeveer 5 cm) waarin die pot sal pas.
Kook die fudge vir ongeveer 13-15 minute oor lae hitte. Dit maak eers groot borrels en sal dan teen die einde klomp klein fyn borreltjies maak. As jy ‘n termometer het, moet dit so tussen 112ºC en 115ºC wees.
Jy kan ook die water toets doen deur ‘n bietjie fudge in koue water te plaas – as dit na ‘n minuut stewig is, behoort dit reg te wees.
Haal die fudge nou af van die stoof en roer die botter en vanilla in tot goed gemeng.
Plaas die pot versigtig in die koue water en begin dit roer met ‘n houtlepel totdat dit net styf maar steeds loperig is.
Skep die fudge in die voorbereide pan en maak mooi gelyk.
Laat goed af koel tot stewig en sny met ‘n warm mes in blokkies.
Lewer 16 blokkies.
Resep en foto: Bernadene Prinsloo