SJOKOLADE EN GEMMER BLOKKIES
Hierdie is geïnspireer deur een van die resepte wat Nataniël in sy Nantes reeks gedemonstreer het. Ek het dit aangepas vir Suid-Afrikaanse omstandighede. Ek hou daarvan om goed van die winkelrakke af te haal en nie te veel te weeg nie. Ek hou ook niks daarvan om bietjies goed oor te hê nie.
Bietjie stroop by die sjokolade maak dat dit mooi blink bly en ek het ekstra gemmerpoeier bygesit – want ek hou van ʼn sterk gemmer smaak.
- 200 g gemmerkoekies, in klein blokkies gekap
- 150 g pekanneute, gekap (okkerneute kan ook gebruik word)
- 100 g botter
- 60 ml goue stroop, as jy stroop weglaat – verdubbel botter
- 1 koppie hawermout
- 1 eetlepel gemmer poeier, opsioneel
- 160 g donker sjokolade
- 300 g melksjokolade
- 250 g versuikerde gemmer, gekap
- 60 ml brandewyn of gemmerbrandewyn
Sny die gemmer in klein blokkies en laat week vir ʼn uur of twee in die brandewyn om dit lekker sag te maak. (oornag werk ook)
Smeer ʼn 23 x 23 cm vierkantige pan of oondbak.
Kap die koekies en neute fyn, meng hawermeel en gemmer (blokkies en poeier) by.
Nota:
Sorg dat alles gereed is voordat jy die sjokolade smelt.
Smelt botter en sjokolade saam oor pot met warm water. Roer stroop by.
Meng met die res van die bestanddele.
Druk vas in pan en sny in blokkies.
Nota:
Ek maak ʼn metaal lepel en mes warm in die water waaroor ek die sjokolade gesmelt het en dan druk ek die blokkie stewig vas. Die warm lepel maak die blokkies mooi blink.
Die blokkies sny ook makliker as die mes warm is.
Resep geplaas deur Tosca De Villiers
Foto: Tosca De Villiers












