SJOKOLADE BALLETJIES VAN BESKUITJIES
Ek en kosbare vroulief het gisteraand iets soets gemaak na die beurtkrag. Dit is smullend lekker en soet tot in jou klein toontjie. Dit is net baie moeilik om te wag dat hulle moet koud word…
- 2 pakkies Marie beskuitjies, fyn gebreek
- 2 koppies suiker
- 4 eiers
- 4 eetlepels klapper
- 20 ml vanilla geursel
- 25 ml kakao
- 500 g margarien
- ekstra klapper om in te rol
Smelt die margarien, suiker en kakao saam in ‘n pot.
Meng die eiers en vanilla geursel apart saam en voeg dan by in die suikermengsel, meng goed deur.
(Moet nie die eiers in die pot oopbreek nie anders word die eierwit gaar. Nie lekker nie)
Roer alles goed saam tot net voor kookpunt.
Haal van die hitte af en laat dit afkoel.
Sodra dit afgekoel het, kan jy nou die beskuitjies in meng.
Skep met ‘n eetlepel uit en rol balletjies waarna jy dit met klapper strooi of in klapper rol.
Ons het begin rol maar dit het ‘n geruime tyd geneem en toe besluit om dit plat te druk op die oond plaat met was papier onder en dan blokkies te sny.
Geniet saam met tee of koffie of sommer vir enige rede.
Resep en foto: Phil Kloppers