SIOPAO GESTOOMDE ROLLETJIES
Vir die soos ek, wie nie ‘n bamboo stoomer of iets het vir ‘steamed buns’ nie. Dit werk dalk nie soooo goed soos ‘n stoomer sou nie, maar ek het gedink dis steeds effektief en het lekker uitgekom, behalwe vir die buitekant wat nie klammerig is soos dit blykbaar behoort te wees nie. Ek het my mikrogolf stoombak se gaatjies oop gelos, so sal dalk volgende keer eerder toemaak. Ek kort nog oefening om hul mooi bo toe te ‘draai’…
- Deeg:
- 1 koppie warm melk
- 2 teelepels kitsgis
- 2 eetlepels suiker
- ½ teelepel sout
- 3 koppies koekmeel
- 2 teelepels bakpoeier
- ½ koppie suiker
- 2 eetlepels olyfolie
- suurlemoensap
Voeg melk, kitsgis, 2 eetlepels suiker en sout in ‘n bak en meng goed deur tot alles opgelos is. Laat staan vir 5 – 10 minute, of todat die mengsel skuimerig is.
Plaas meel, halwe koppie suiker, bakpoeier en olyfolie in ‘n groterige bak en meng alles goed saam. Voeg ‘n paar druppels suurlemoensap by die meel mengsel.
Voeg die kitsgismengsel by die meelmengsel en meng goed deur, todat ‘n deeg begin vorm. Knie die deeg tot dit glad is en nie meer aan jou hande vassit nie.
Bedek met kleefplastiek of ‘n skoon vadoek en los in ‘n warm plek om te rys. Ongeveer 2 ure of tot die deeg verdubbel het in grootte.
Verwyder deeg uit die bak en plaas op ‘n skoon plat oppervlak. Maak ‘n ronderige langwerpige vorm uit die deeg en sny dan in tien eweredige snye, met ‘n mes. Rol elke sny op in ‘n ronde balletjie en pak uit op ‘n bakplaat. Onthou om genoeg spasie tussen elk te los dat hulle lekker kan uit rys.
Maak die deeg balletjies toe met ‘n skoon vadoek en laat verder rys vir ongeveer 30 minute.
Sit balletjies deeg een vir een op ‘n skoon, plat oppervlak en rol uit tot so 10-13 cm. Maak seker om die kante dunner uit te rol as die middel.
Plaas ongeveer een eetlepel van jou gekose vleismengsel in die middel van die sirkel.
Maak nou die kante bymekaar dat dit lyk soos plooie en draai dit dat die deeg mooi bo seël. Pak die deeg rolletjies weer uit op ‘n pakplaat wat bedek is met waspapier/bakpapier. Los genoeg spasie tussen die rolletjies vir hul om te kan rys en bedek met ‘n skoon vadoek. Laat verder rys vir ongeveer 10 minute.
Plaas ‘n pot-staandertjie wat gaatjies in het, onder in ‘n mikrogolf stoombak en giet bietjie kookwater in; net genoeg dat dit nie aan die pot-staandertjie raak nie (buiten vir die pote wat onder die water sal wees).
Voeg ‘n bietjie asyn (ongeveer ‘n teelepel) by die water in om die rolletjies witter te maak.
Plaas die rolletjies in ‘n enkel laag op die pot-staandertjie en maak seker die water raak glad nie aan hul nie. Laat genoeg spasie tussen die rolletjies oop. Sit die deksel op en laat die gaatjies toe bly.
Stoom in die mikrogolf op medium-hoë hitte, vir 5 – 6 minute. Hou die deksel op vir ‘n verdere 3 – 5 minute om te voorkom dat die rolletjies afblaas.
Verwyder van die mikrogolf stoombak en bedien.
Die is nogal ‘n redelike soet deeg, so ons het ‘n soet-suur hoendervulsel gemaak saam met dit.
Resep en foto: Chantal Theron


















