SEEKOSPOTJIE OOR DIE KOLE
Ek het toe die verlore seekospotjie se resep opgespoor. Ons maak dit gewoonlik op die vuur in ‘n swartboom pot, maar enige manier sal werk. Geniet dit. Onthou met baie van my resepte, kan jy maar speel met die hoeveelhede en bestanddele. Hier is dit ook die geval. Hier is ‘n groot hoeveelheid kos maar so lekker, en daar is gewoonlik niks oor vir die volgende dag nie!!!
- 10 gesnipperde uie
- 2 pakkies gesnyde sampioene
- ½ bolletjie fyn knoffel
- 2 pakke gesnyde spek (bacon)
- 2 pakke seekos (of vars as jy kan kry, en net wat jou hart begeer)
- 2 x 250 ml room
- ¾ tot 1 pak al danté gaar spaghetti
- ± 500 g gerasperde kaas
- 2 blikke oesters of mossels, of een van elk
- ¾ tot 1 pakkie sampioensop
- sout en swart peper na smaak
Braai uie, sampioene, knoffel, en spek met ‘n bietjie olie in ‘n swart potjie op die vuur, tot mooi blink.
Voeg die seekos by die uiemengsel en plaas die deksel op die pot en prut ± 10 – 15 minute.
Kook die spaghetti eenkant tot al danté.
Meng die room en soppoeier en voeg die sopmengsel by die seekos en kook goed deur totdat die sop gaar is, ongeveer nog 10 minute.
Geur met sout en peper, indien nodig, na smaak.
Verwyder die pot van die vuur en voeg die kaas by, plaas die deksel terug op die pot en laat staan totdat die kaas gesmelt het.
Eet en wees vrolik.
Dit alles saam met heerlike vars growwe bruin brood is amazing.
Resep en foto 1: Esme Slabbert
Foto 2: Marlene Potgieter
Nota foto 2:
Hier is my weergawe, ek het die resep gevolg en net 500 g gevriesde ertjies bygevoeg, die kaas weg gelaat en skulp noedels gebruik. Was heerlik saam met ‘n vars slaai.