SANS RIVAL – KASJOE-NEUT MERINGUE MET VLA VULSEL
Ek werk saam met ‘n klomp Filipynse mense, en omtrent ‘n jaar terug het een van hulle ‘n Filipynse koek ingebring wat vreeslik lekker was. Lae kasjoe-neut meringue met ‘n tipe vla vulsel. Hulle het my uitgedaag om dit te maak, en uiteindelik het ek ingegee. Ek het op die internet gaan soek vir ‘n resep, en het die volgende saamgestel uit ‘n hele paar resepte. Ek het alles dubbeld gemaak sodat ek genoeg porsies kon hê vir 24 mense. Dis baie werk, maar mensig – dis lekker!
- Vir die Meringue lae:
- 6 eierwitte
- ½ teelepel kremetart
- ¾ koppie suiker
- 1 teelepel vanielje geursel
- 1 ½ koppies fyngekapte kasjoe neute
Verhit die oond tot 110 ºC. Voer 2 oondbakke (cookie sheets) uit met bakpapier. Gebruik ‘n potlood om 2 sirkels (of vierkante) van so 20 cm op elkeen te trek. Draai die papier om sodat die potlood op die onderkant is. Sproei liggies met Spray-n-Cook.
Klits die eierwitte totdat dit skuimerig is. Sprinkel die kremetart oor en klits tot sagte punte. Voeg die suiker bietjies-bietjies saam en klits tot styf. Klits die vanielje by.
Vou die neute versigtig by. Sprei die mengsel eweredig oor al 4 sirkels.
Bak vir 1 ½ tot 2 ure totdat die meringue droog is. Sit die oond af en los die meringue om heeltemal af te koel binne in die oond.
- Vir die vulsel:
- ¾ koppie suiker
- ⅓ koppie water
- 6 eiergele
- 250 g botter, kamer temperatuur, in blokkies gesny
- 1 ½ teelepels vanielje geursel
- 1 koppie fyngekapte kasjoe neute
Sit die suiker en water in ‘n pot oor matige hitte. Roer totdat die suiker opgelos is.
Sit ‘n termometer in en kook tot 115 ºC.
Terwyl die suiker kook, klits die eiergele baie goed. Sodra die suiker 115 ºC bereik, giet dit in ‘n dun straal by die eiergele, terwyl jy dit klits. Hou aan klits tot dit dik is en begin afkoel. (Dit gaan ‘n goeie 10 – 15 minute vat!)
Wanneer alles kamer temperatuur is, voeg die botter blokkies stadig by en hou aan klits tot alles in is en dit lig en donsig is.
Klits die vanielje by en sit die bak in die yskas vir so 20 – 30 minute.
Om aanmekaar te sit:
Plaas ‘n laag meringue op ‘n bord. Smeer ‘n laag vulsel bo-oor. Herhaal met al die lae. Smeer vulsel bo-oor en om die kante. Druk fyngekapte kasjoeneute al om die koek.
Sit die koek in ‘n lug-digte houer in die yskas vir 24 uur voordat jy dit bedien.
Foto’s en resepte geplaas deur Debbie Edwards