SANKIE SE VISKERRIE
Ek moet julle vertel van my vriendin, Sankie Mostert, se heerlike ingelegde vis. Of kerrievis soos ons almal praat. Nou moet ek erken ek eet nie kerrievis nie. Dis te suur. En ek hou nie van die smaak nie. So maak sy die ander dag (sy is bitter fluks – sy laat my skaam kry) ingelegde vis en gee ‘n bakkie saam huistoe (nadat dit al vir twee dae in sous gestaan het) vir my man. Hy vrek daaroor. So laat sy my eers proe. OH MY WORD. Toe ek by die huis kom moes ek daardie bakkie seël in ‘n plastieksak anders het ek dit self alleen opgeëet. Hier is haar resep.
- 2 kg vismootjies, gerol in koekmeel
- olie vir braai
- sout en peper
- 4 uie, skyfies gesny
- ½ koppie suiker
- 3 eetlepel kerriepoeier
- 1 eetlepel borrie
- 3 koppie asyn
- ½ koppie water
- 6 gekneusde suurlemoenblare (sy sê sy verkies suurlemoenpeper)
Rol die vismootjies in koekmeel en braai gaar in ‘m pan met bietjie olie.
Vir die sous:
Meng die sout en peper, uie, suiker, kerriepoeier, borrie, asyn, water en gekneusde suurlemoenblare of suurlemoenpeper.
Pak die gaar vis in ‘n plastiek of glas bak dat dit in ‘n enkel laag lê indien moontlik.
Nota:
MOENIE dit in ‘n metaalbak laat staan nie, dit reageer met die asyn en beinvloed die smaak.
Braai die Kerrie- en asynmengsel saam met die uie.
Wanneer die sous klaar gekook het, skep die mengsel oor die vis.
Bedek met kleefplastiek of ‘n deksel en laat staan EERS vir twee dae om smaak reg te kry, anders proe dit baie na asyn.
Bedien en geniet.
Nota:
My vriendin gebruik Cartwrights se geel boksie kerriepoeier.
Resep geplaas deur Lorraine Weitz Brand
Foto’s: Sankie Mostert