ROSYNTJIE- OF SULTANABROOD
Ek is nie goed met brood nie (lees: die bak gedeelte, nie die eet gedeelte nie – daarin is ek fantasties😂) So het ek na die gesprek oor die Pumpernickel brood, en nadat ek daaroor heelwat opgelees het, besluit om ‘n brood masjien te koop. Dis die tweede brood wat ons bak sedert Sondag, maar ek het gedink om die resep te deel, want ek is mal oor rosyntjiebrood, en dis die eerste keer in amper 4 jaar wat ek dit eet! So as jy ‘n broodmasjien het, stof hom af en probeer die resep. Jy sal nie spyt wees nie.
- 1 koppie water
- 2 eetlepels botter, sag
- 3 koppies brood- of koekmeel
- 3 eetlepels witsuiker
- 1 ½ teelepel sout
- 1 teelepel fyn kaneel
- 2 ½ teelepels broodmasjien droë gis
- ¾ koppie rosyne/sultanas
Plaas die bestanddele in die broodmasjien in die volgorde van die resep, buiten die rosyne.
Voeg rosyne by 5 – 10 minute voor die laaste kniebeurt klaar is (of volg jou masjien se instruksies).
Kies die “Basic of Sweet” siklus en stel dit op medium kleur (die brood weeg omtrent 650 g).
Verwyder uit die pan as dit klaar gebak is en laat goed afkoel voordat jy dit sny.
Eet met botter en koffie!
Resep en foto: Ilze Jacobs