ROOIBOS- EN LENSIEFRITTER BEDIEN OP HUMMUS PATÉ
Rina, hierdie is ‘n resep/voorgereg wat ek self geskep het vir ‘n funksie wat ek aangebied het in my restaurant. Daar is dus nie ‘n regte of verkeerde manier nie.
- Hummus Paté:
- 1 blik botterbone
- 1 wiel Feta
- 1 toon vars knoffel
- room, opsioneel
Puree alles saam en indien nodig voeg ‘n klein bietjie room by indien dit té dik is. Geur met swartpeper en knippie sout.
- Lensiefritter:
- 1 pakkie bruin/oranje lensies
- ½ gekapte ui
- 1 teelepel kerriepoeier
- knypie borrie
- 1 eier
- koekmeel
Dreineer die lensies. Braai gekapte uie in ‘n pan. Voeg kerrie en borrie by die uie en soteer totdat uie sag is en kerriepoeier gaar is. Voeg die lensies by en braai in uiemengsel vir 15 minute.
Voeg 1 eier met ‘n bietjie meel by om te bind.
Braai lepels vol van die mengsel in vlak medium hitte olie in ‘n pan.
Haal fritters uit die olie wanneer gaar en mooi verbruim en laat dreineer op handdoekpapier.
- Rooibostee uiemarmelade:
- 1 gekapte ui
- 1 eetlepel botter
- 2 eetlepels bruinsuiker
- 1 koppie rooibostee
Braai uie stadig in die botter tot half gaar. Voeg die bruinsuiker by en roer deur.
Voeg Rooibostee by en laat prut stadig tot ‘n marmelade.
Opdien:
Skep van die paté in die middel van die bord.
Plaas 2 tot 3 lensiefritters bo-op die paté.
Skep ‘n klein bietjie rooibosteeuie/marmelade op die fritters.
Rond af met ‘n “basting” van jou keuse.
Resep en foto: Michael Coetzee