“PULLED PORK” POTJIE PASTEI
Ek het hierdie lekker “pulled pork potjie paai” in my swartpot oppie kole gemaak met oorskiet vark bladvleis en dit was absoluut djeeeerlik!
- Meng die volgende saam:
- ± 500 g oorskiet gaar varkvleis, gerafel
- 1 ui, fyn gekerf
- 2 eetlepels mayonnaise
- 2 eetlepels soetrisiesous
- 2 eetlepels suurlemoensap
- 2 eetlepels heuning
- 2 eetlepels korrelmosterd
- 1 teelepel gemaalde swartpeper
- Deeg -Sif die volgende saam:
- 4 koppies koekmeel
- 4 teelepels bakpoeier
- 2 eetlepels suiker
- ½ teelepel sout
- Voeg by die meelmengsel:
- 1 koppie gerasperde geelkaas
- 1 koppie olyfolie
- 1 koppie melk
- Ekstra:
- geklitste eier
Meng alles saam en knie tot ‘n deeg en rol uit tot omtrent 10 mm dik.
Maak een derde van die deeg af en plaas twee derdes in ‘n platboompot en werk dit mooi teen die rante uit om as kors te dien.
Skep die vleismengsel in die kors en maak ‘n ronde sirkel van die ander derde en plaas bo-op die vulsel. Druk die rante saam vas.
Sny ‘n keep of twee op die boonste deeg en smeer dit met geklitste eier. Plaas die deksel op.
Bak op matige skerp kole onder en op die deksel van die pot vir ‘n uur lank.
Vervang die kole as dit te veel afgaan met skerperige kole sodat die kors effens verbruin.
Nota:
Ons het dit geniet saam met opgekookte appel en was uit die boeke.
Hmmmmmmmm dit was lekker sappig en niks droog nie.
“PULLED PORK”
Heerlike Djeeerlike Lekker varkblad hmmmmmmm.
- 2.5 kg varkblad
- olyfolie
- sout en peper
- suurlemoensap
- roosmaryntakkies
- sampioen soppoeier
Varkblad geplaas in ‘n oondvaste bak en besprinkel met olyfolie en sout en gemaalde swartpeper en ‘n bietjie suurlemoensap asook ‘n paar roosmaryn takkies.
Bedek die pan/bak met foelie en bak op 150°C vir 3.5 ure.
Dreineer ⅔ van die sous wat gevorm het, af en verdik met ‘n bietjie sampioen soppoeier en sit saam met die vleis voor.
Plaas die vleis met die foelie onder die oond rooster vir ‘n rukkie.
Verwyder die foelie en rooster vir nog ‘n verdere 30 min vir mooi kleur.
Nota:
Ons het die varkblad geniet saam met blomkool, ertjies en gebakte aartappels.
Was yt die boeke lekkerrrrr!
Resep en foto’s: Gideon Louw