POTGEBRAAIDE SOETPATATS
- 50 ml botter of margarien
- 80 ml suiker (ek het Xylitol gebruik)
- sout na smaak
- klein stukkie vars gemmer (1.5 cm)
- 4 teelepels heuning
- skottel met bietjie suurlemoenwater, genoeg om patats te bedek
- 2 heel groot patats of genoeg vir jou aantal gaste
Spoel die patats mooi skoon af onder water, borsel bietjie met ‘n borseltjie om seker te maak die skil is mooi skoon. Sny in die helfte en laat lê in suurlemoen water tot jy dit nodig het.
Gebruik ‘n dikboom pot en plaas dit op die stoof met die botter en suiker daarin. Sit die plaat eers op hoog dat alles smelt, draai nou af na so no 3.
Pasop dat die botter/suiker mengsel nie verkleur nie, dan is jou plaat te warm.
Sny die gemmer in klein stukkies en sit in die warm botter/suiker mengsel. Sit die halwe patats, gesnyde kant onder in die mengsel, gooi bietjie sout op die skil kant.
Sit deksel op en laat stadig prut tot patats sag is, so halfpad deur die proses, kan jy die patats vir ‘n rukkie omdraai, en dan weer met die snykant ondertoe sit. As die mengsel droog raak, gooi klein bietjie water by dat dit net weer stoom tot patats sag is. Wanneer die patats deur sag is, drup bietjie heuning oor elke patat (skil kant) en laat hulle net lekker stadig braai tot goud bruin.
Moenie dat die botter suiker mengsel brand nie, dan sal jou patat bitter smaak.
Geniet dit.
Nota:
Jy kan opgesnyde patats ook so doen.
Resep en foto: Rina Kleinhans