POTBROOD IN ‘N PLASTIEKSAK
Bederf jou mense met hierdie heerlike POTBROOD.
Die brood word in ‘n plastieksak in ‘n swart pot gemaak wat half vol water is.
Almal soek altyd die resep en is baie verbaas oor die manier hoe dit gaargemaak word.
HEERLIK!!!!
- 720 g (6 x 250 ml) koekmeel
- 7 ml sout
- 1 pakkie (10 g) kitsgis
- 30 ml suiker
- louwarm water
Sif die koekmeel, sout en kitsgis saam in ‘n groot mengbak.
Voeg die suiker by en meng.
Voeg sowat 500 – 625 ml louwarm water by om ‘n slapperige deeg te vorm.
Knie totdat die deeg nog net effens aan jou hande vassit.
Skep die deeg in ‘n skoon winkel plastieksak en knoop die handvatsels lossies toe en plaas laastens in ‘n groot swart pot.
Maak die pot halfvol met louwarm water.
Bedek. Indien oorkook, sit deksel skeef op pot.
Verhit die water tot kookpunt en stel die plaat dan op sy laagste.
Prut vir sowat 2 uur lank oor stadige hitte.
Vul die water in die pot aan tot halfvol indien nodig.
Toets of die brood gaar is deur ‘n toetspen in die middel van die brood in te steek.
Dit sal skoon uitkom as die brood gaar is.
Dien op saam met botter, kaas en konfyt.
Lewer 1 groot brood.
Foto: Kokkedoor Tessie Els Kemp
Resep: Kokkedoor Tessie Els Kemp