PERSKEPIEKELS
Dit is soet-suur. My familie eet piekels van enige soort saam met enige kos met die gevolg ek dink nie so daaraan nie. Hierdie is (vir my) egter lekker saam met kerriekos en kan ook in iets soos ‘n kerrie rysslaai ingesny word, of sommer net by enige maatyd saam met ander piekels soos agurtjies en uitjies ens bedien word as ‘n side dish. Hierdie resep het ‘n Indiese oorsprong, nou dat ek weer daaroor dink, dit is dus veilig om aan te neem dat dit hoofsaaklik saam met kerriedisse geëet word.
- 1 kg taaipitperskes soos Yellow Cling wat nog nie te sag is nie
- 500 g suiker
- 1 teelepel sout
- 500 ml witasyn
- 1 eetlepel Allspice korrels
- 8 kruienaeltjies
- 6 kaneelstokkies
Skil die perskes en sny in kwarte van die pit af.
Verhit en roer die suiker, sout en asyn in ‘n kastrol.
Voeg die allspice, naeltjies en kaneel by.
Verhit tot kookpunt en roer gedurig om die suiker op te los.
Voeg die perskekwarte by en kook liggies vir 20 – 30 minute tot die perskes sag, maar nog ferm is.
Verwyder van die hitte en skep die perskes in ‘n skoon warm fles.
Bedek met die stroop en verseël.
Beste om te laat staan vir ten minste 2 weke voor gebruik.
Resep en foto: Adam Cloete












