PERI PERI HOENDER – DIE WARE JAKOB
Die ouer-garde wat Peri-Peri Hoender onthou soos dit in die dae van die Portugese in Mozambique voorgesit is. Dit is die Ware Jakob!
- 1 heel hoender (± 1.8 kg)
- Portugese olyfolie
- Marinade:
- 6 knoffelhuisies, grof gekap
- stukkie vars gemmer (sowat 5 cm lank), gekap
- 150 ml olyfolie
- fyn gerasperde skil van ‘n halwe suurlemoen
- 150 ml vars suurlemoensap
- 2 rooi vars rissies, gekap met pitte en al, of ‘n eetlepel vol droë ‘Chilli-Flakes’ (vars is beter)
- 1 handvol gekapte pietersielie
Plaas die heel hoender met bors na onder op snyplank.
Met ‘n sker of skerp mes, sny langs die ruggraat oop. Sny die ruggraat uit.
Draai die hoender om en vlek heeltemal oop. Druk effens plat.
Plaas die hoender in ‘n groot plastiese sak.
Sit die knoffel, gemmer, 150 ml olyfolie en suurlemoensap in ‘n ‘food processor’ en meng goed. Sit die rissie en pietersielie by.
Voeg die marinsde by die hoender en werk dit deeglik in.
Bind die sak toe en laat (verkieslik) oornag staan in ‘n yskas, of marineer vir ten minste vyf ure lank.
Verwarm oond tot 200°C.
Sit ‘n bietjie olyfolie in ‘n braaipan. Haal die hoender uit en plaas in die pan. Borsel met olyfolie. Gooi die oortollige marinade weg.
Sprinkel sout op na smaak. (Ek gebruik growwe sout)
Plaas pan in die oond. Borsel nou en dan van die pan-sappe oor en braai in die oond tot gaar.
Haal uit die oond en skep uit in groot bord.
Meng sowat kwart-koppie suurlemoensap met kwart-koppie olyfolie en verf oor die hoender.
Dien op met suurlemoen skyfies en chips of Portuguese gebraaide rys.
Resep geplaas deur Dorrie
Foto: Herman Agenbag