PAMPOENPOFFERTJIES MET KARAMELSTROOP
Die poffertjies is die gewone pampoenkoekie se wulpse niggie. Goudbruin, soet en stroperig. Groente was nog nooit so lekker nie!
- Poffers:
- 750 g gaar pampoen, goed fyn gedruk (verkieslik pampoen met blou skil)
- knippie sout
- 2 eiers, geklits
- 500 ml bruismeel
- 15 ml bakpoeier
- olie, vir diepbraai
- Stroop:
- 500 ml witsuiker
- 250 ml water
- 125 ml melk
- 45 ml botter
- knippie sout
- 10 ml mielieblom
- 15 ml koue water
- 5 ml fyn kaneel
Klits die pampoenmoes, sout, eiers en bruismeel saam, voeg die bakpoeier by en meng goed deur.
Braai teelepelsvol in warm olie tot opgepof en goudbruin.
Skep uit met gaatjieslepel, dreineer op kombuispapier en hou warm.
Vir die stroop:
Verhit die suiker, water, melk, botter en sout saam tot kookpunt.
Meng die mielieblom, kaneel en water en roer by die stroop.
Prut, terwyl geroer word, tot effens verdik en giet oor die poffertjies.
Sit warm voor.
Resep en foto: Christel Swart
2de foto: Petré Van Jaarsveld