PAMPOEN FLAPJACKS/ CRUPETS/ PLAATKOEKIES
Iemand het nou so tydjie terug hierdie resep van die pampoen plaatkoekies op die blad gesit – ek het dit vandag gemaak en bedien saam met my beesstert, rys en gevulde sampioene- en julle dis heerlik – ek sal nooit weer gewone pampoenkoekies maak nie – daar kom karringmelk in en dis fantasties.
- 250 g pampoen in blokkies
- 3 eetlepels bruinsuiker
- 1 eetlepel sonneblomolie
- 5 ml vanilla
- 2 groot eiers
- 250 ml karringmelk
- knippie sout
- 2,5 ml kaneel
- 210 g bruismeel
- botter om in te braai en klein bietjie ekstra olie
Stoom die pampoen tot gaar vir ongeveer 20 minute.
Plaas die warm pampoen, suiker, olie en vanilla in ‘n menger en meng tot glad.
Voeg die eiers, karringmelk, sout, kaneel en meel by.
Meng goed deur vir ‘n slap deeg.
Verhit ‘n knop botter in ‘n pan saam met ‘n bietjie sonneblom olie, en skep teelepels vol pampoen mengsel daarin, braai tot daar lugborrels verskyn soos by gewone flapjacks/ plaatkoekies en draai om.
Bedien met kaneelsuiker, stroop, heuning, roomys of room.
Foto: Marietjie Nel
Resep geplaas deur Hanlie Oosterhuis