PADDA IN DIE GAT (TOAD IN THE HOLE)
- 2 groot uie
- 2 eetlepels Engelse mosterdpoeier
- Worcestershire-sous
- 125 g koekmeel
- 300 ml melk
- 1 teelepel sout
- 2 eiers
- 6 tot 8 kleinerige worsies van jou keuse (bangers werk goed)
Sny die uie in dik ringe en braai dit in ‘n bietjie olie oor medium hitte tot dit begin karameliseer. Strooi ‘n knippie sout oor die uie terwyl dit braai. Haal uit die pan en hou eenkant. Dit maak nie saak as die uie nie heel bly nie, hulle gaan in elk geval onder die beslag verdwyn.
Verhit die oond tot 200ºC.
Meng die meel, sout en eiers. Voeg ʼn bietjie melk by en roer deur om ‘n pasta te vorm. Voeg die res van die melk by en klits tot dit ‘n gladde beslag is. Laat dit eenkant staan vir 30 minute. Braai die worsies in dieselfde pan waarin die uie was, tot bruin. Rangskik die worsies in ‘n oondvaste bak en plaas die uie tussen die worsies.
Maak ‘n slap pasta van die mosterd en Worchestersous en drup dit oor die uie. Giet die olie en vet wat by die worsies uitgebraai het oor die worsies en uie. Moenie te veel oorgooi nie, dit moet die bodem van die bak met ongeveer 4 millimeter bedek. Smeer ook van die olie teen die randte van die bak op. Plaas die bak met die worsies in die oond net voor dit die korrekte hitte bereik, sodat die olie goed warm word.
Giet die beslag oor (jou bak moet net groot genoeg wees dat die beslag tot ongeveer helfte teen die worsies opkom sodat die boonste dele daarvan uitsteek) en bak ongeveer 30 minute by 200°C totdat die deeg gepof het en goudkleurig raak.
In die helfte van die baktyd kan gekyk word dat die worsies nie bo die beslag uitgelig het nie, en indien wel, druk hulle terug in die beslag.
Resep geplaas deur Adam Cloete
Foto: Adam Cloete