OOP ROOSTERKOEKBURGERS EN -PIZZAS
- Roosterkoek:
- 500 ml bruismeel
- 5 ml sout
- 30 ml suiker
- 30 ml olyfolie of gesmelte botter
- 200 ml louwarm water
- ekstra meel
Sif die bruismeel in ‘n mengbak en voeg die sout en suiker by.
Roer die olie of botter by die droë bestanddele en giet die louwarm water stelselmatig by terwyl dit geroer word totdat ‘n stewige deeg vorm.
Knie die deeg ‘n paar minute.
Strooi die ekstra meel op ‘n werksblad, keer die deeg uit op die blad en druk dit effens plat.
Sny in 200 g blokke (ongeveer 2 groot koeke) en vorm die koeke met jou hand tot ‘n ronde vorm.
Druk die deeg effens plat en besprinkel met nog ekstra meel.
Braai die roosterkoeke op matige kole tot deurgaar.
Plaas die gaar roosterkoek eenkant en bedek met ‘n doek om af te koel tot benodig.
- Roosterkoekburgers:
- burger patties van jou keuse
- botter vir smeer
- rissiesous van jou keuse
- gerasperde Cheddar kaas
- gesnipperde grasuie vir garnering
Braai die hamburger patties op die rooster tot medium gaar.
Sny een roosterkoek in die helfde en smeer elke helfte met botter en die rissiesous.
Pak die patties bo-op die gesmeerde roosterkoek helfte en sprinkel die patties met gerasperde kaas sodat die hele oppervlak bedek is. Moenie suinig wees nie.
Plaas die roosterkoekhelftes op ‘n bakplaat uitgevoer met bakpapier en rooster die burgers onder die rooster element van die oond vir 10 – 15 minute todat die kaas gesmelt is.
Sprinkel grasuie oor.
- Roosterkoekpizzas:
- botter vir smeer
- Dijon mosterd
- 250 g growwe kouevleis- en worsiemengsel vir pizza
- gerasperde Cheddar kaas
- soetrissiesous
Sny die 2de roosterkoek in die helfde en smeer die halwe roosterkoeke met botter en ‘n ruim hoeveelheid Dijon mosterd.
Plaas die kouevleis- en worsiemengsel op die gesmeerde roosterkoek helftes.
Sprinkel die gerasperde kaas bo-oor die vleismengsel en bedruip die pizza met soetrissiesous.
Plaas die roosterkoek helftes op ‘n bakplaat uitgevoer met bakpapier en rooster die pizzas onder die rooster element van die oond vir 10 – 15 minute, totdat die kaas gesmelt is.
Sny in kwarte en bedien as mini roosterkoekpizzas.
Nota:
Indien daar deeg oorbly, maak kleiner roosterkoekies daarvan.
Resep en fotos: Johan Rossouw