NEKTARIEN- EN GEMMERKONFYT
Ek is al so so lank lus hiervoor…my ma en ouma-hulle het perskebome gehad en dit altyd gemaak in die somer, en dit was menigmaal op n toebroodjie in my skool kosblik. En toe het ek vandag uiteindelik ingegee en dit gemaak…Nektarien en gemmer konfyt. My kombuis ruik soos my kinderdae se somersvakansies 40 jaar gelede.
- 350 g geskilde en fyn gesnyde nektariens, pit verwyder
- 350 g suiker
- 10 ml suurlemoensap
- 5 ml botter
- 5 ml gemmer
Verhit die nektarien, suiker, suurlemoensap en gemmer oor ‘n medium hitte totdat die suiker gesmelt is. Voeg die botter by en kook vinnig oor ‘n hoë hitte vir 25 minute.
Plaas ‘n bietjie van die konfytstroop op ‘n piering wat vir 10 minute in die vrieskas was, laat effens afkoel en trek jou vinger daardeur-as dit plooie maak is die konfyt reg, paadjie moet oop bly.
Indien nie, kook verder en toets totdat dit gebeur.
Bottel warm in gesteriliseerde bottels.
Resep en foto: Ilze Jacobs