MYERS SE WITBROOD
Brood nou klaar gerys nou net bak. Die resep is wat ek al lank gebruik uit my ma se boek uit gekry wat sy geskryf het.
- 1 kg witbroodmeel
- 15 ml sout
- 10 ml suiker
- 1 x 10 g kits droëgis
- 20 g botter
- 625 ml lou water
Sif die meel, sout, suiker en gis saam. Vryf botter by droë bestanddele in. Voeg lou water by en meng tot ‘n sagte deeg. As die deeg te droog is, kan nog bietjie water bygevoeg word. Knie deeg tot sag en elasties.
Plaas in ‘n olie gesmeerde mengbak, bedek en laat 20 minute lank rus.
Nadat deeg gerys het, knie af en verdeel in 2 ewe groot dele, vorm en plaas in gesmeerde broodpanne.
Bedek en laat rys op ‘n warm plek, 35 – 40 minute lank of tot dubbel die hoeveelheid deeg.
Bestryk met water en bak in voorverhitte oond by 200ºC vir 35 minute of tot gaar.
Foto en resep: David Myers
Notas:
Hannie Steyn het vanmôre die witbrood resep probeer, met haar eie variasies, notas is onderaan. Sy sê dit is absoluut ‘n wenner, haar familie het kamtig kort-kort ‘n ‘gat’ in die maag en dan loop daar ‘n dik sny brood rond met appelkooskonfyt.
Koekmeel verruil vir broodmeel.
Eetlepel margarien gebruik in plaas van botter.
Ek het net in een groot pan gebak en nie in twee nie.
Weer Hannie Steyn:
Boerbrood vir vanaand.
Ek gebruik altyd David Myer se broodresep.
Vir ‘n Boerbrood – gebruik dubbel die resep.
Ek het die baktyd aangepas na 1 uur by 180°C.
2de Foto: Hannie Steyn
3de foto: Pikkie Langenhoven
Ek het gou die brood gebak. Brood weeg meer as 1.5 kg
4de Foto: Hannie Steyn – die groot brood, dubbele beslag
Flipkotie Olivier
Ek het hierdie resep so tyd terug begin gebruik. En as julle wil brood bak wat werk is dit hierdie een. Elke keer is dit n groot sukses.