MIELIETERT UIT DIE BOONSTE RAKKE
Vir hierdie mielietert gebruik ’n mens brood in plaas van meel en bakpoeier. En dis so maklik, jy kan sommer een van die kinders inspan om dit te maak. As jy die worsies bysit, kan jy dit as ’n gereg op sy eie saam met slaai voorsit.
- 6 snye witbrood, met korsies
- 1 koppie melk
- 4 groot eiers, geklits
- 1 blikkie (410 g) suikermielies
- 1 blikkie (410 g) heel mieliepitte
- knippie sout
- 1 hand vol cabanossi worsies, gekap en opsioneel
- ½ koppie Cheddar kaas, gerasper
Voorverhit die oond tot 180°C.
Week die brood in die melk en maak dit fyn. Meng al die bestanddele (behalwe die kaas) baie goed saam.
Giet deeg dit in ’n gesmeerde oondbak. Sprinkel gerasperde kaas oor en bak die tert vir 30 minute in die oond, of in ’n platboompot oor matige kole met die deksel op.
Sit dit warm of koud voor saam met braaivleis.
Wenk:
Die cabanossies is heerlik, maar ek het al gemaak met gerookte weense worsies.
Heerlik!
Resep en foto: Rosie Roberts