MIELIEPAP IN DIE MIKROGOLF
As jy dit eenkeer in die mikrogolf gemaak het is dit “forever”. Niks sit vas in die pot nie.
Gerda Potgieter
Voeg 1 koppie mieliemeel en bietjie sout in ‘n mikrogolf bestandte bak, voeg 3 koppies kookwater by die meel terwyl jy vinnig roer. (ek gebruik ‘n draad klitser). Mikrogolf vir 3 min op hoog, roer die pap deur en plaas die pap weer vir 3 minute op hoog in die mikrogolfoond en roer weer deur, plaas die pap vir ‘n laaste keer nog 3 minute op hoog in die mikrogolf, verwyder die gaar pap uit die oondjie, roer die pap deur en eet…
Elsie Opperman
Makliker nog, ek maak myne ook in die mikrogolf.
So 600 ml kookwater en ½ koppie mieliemeel vir slap pap. Klits die mieliemeel met ‘n draadklitser by die kookwater en bedek die bak met kleefplastiek. Maak ‘n gaatjie in die plastiek en mikrogolf op hoog vir ongeveer 6 minute.
Wenk:
Spuit jou bak met kossproei vooraf, is dan makliker. En onthou die sout. Vat bietjie meer meel vir stywe pap. Ek roer myne net 1 of 2 maal deur.
Louise Lombard
Gebruik ‘n glasbak met ‘n deksel. Voeg die mieliemeel net so droog in. Ek gebruik ¾ koppie meel, voeg sout by. Plaas die deksel op en kook vir 2 minute in die mikrogolf. Verwyder die warm meel uit die mikrogolf en voeg kookwater by tot hoe slap of styf jy dit verkies. Plaas die deksel terug op die bak, plaas die bak terug in die mikrogolf en kook vir 4 minute, roer weer deur en kook vir nog ‘n verdere 4 minute totdat dit klaar is.
Baie maklik en baie lekker!!
Meyer Combrinck
Ek maak ook eers my mieliemeel ‘gaar’ voor ek water byvoeg. Dit gee daai effense aangebrandde smaak wat mieliepap so lekker maak!
Hou net jou oog op die droë meel in die mikrogolf. Ek sit myne 1 minuut op ‘n slag in en roer na elke minuut. Dit kan in ‘n japtrap verbrand. Maar sodra jy daai ‘magical’ punt van perfeksie bereik het voor jy die water byvoeg, proe dit baie lekker.
Suneth van Rensburg
1 koppie mieliemeel, 3 koppies kookwater, sout na smaak en 2 eetlepels botter. Plaas die meel in ‘n glasbak en mikrogolf dit droog vir 90 sekondes. Voeg die water en sout by en roer goed deur. Mikrogolf die meel- en watermengsel vir 10 minute op hoog. Roer die botter by die warm pap. Jy kan ook ‘n blikkie heelpit- of roommielies inroer.
Foto: Mareli Coetzee