MICARLA SE HERTZOGGIES
- Doppies:
- 2 koppies koekmeel
- 150 g suiker
- 3 eiergele
- knippie sout
- ½ koppie botter (125 g) teen kamertemperatuur
- 1 eetlepel gesmelte botter ekstra
- 1 teelepel bakpoeier
- Vulsel:
- 10 eierwitte
- 1½ koppie fyn klapper
- 150 ml appelkooskonfyt (of soveel soos jy verkies; ek gebruik meer)
- 1 teelepel vanilla geursel
- ½ koppie suiker
Doppies:
Skei die eiers en plaas gele en witte in aparte bakkies. Klits die eiergele. Meng die meel, suiker,
bakpoeier en sout saam in ‘n mengbak. Voeg die eiergele by en meng deur. Vryf die ½ koppie botter met jou vingerpunte in die meelmengsel in. Wanneer ingevryf is, voeg die ekstra gesmelte botter by en vryf dit deeglik in tot die deeg ‘n stewige tekstuur het! Rol die deeg in balletjies en druk dit plat in die muffinpan se gaatjies om ‘n doppie te vorm soos op foto. Skep die appelkooskonfyt in die holtes en sit die pan eenkant terwyl die vulsel aangemaak word.
Vulsel:
Klits die eierwitte met ‘n klitser tot dit wit en styf is ± 5 minute. Die styfgeklopte witte moet ‘n stewige tekstuur hê. Terwyl eierwitte geklits word, word die vanillageursel bygevoeg. Wanneer die eierwitte styfgeklits en stewig is, word die res van die vulselbestanddele egalig ingeroer met die hand, nie die eierklitser nie. Die suiker hoef nie op te los nie. Gebruik ‘n lepel en skep dié mengsel bo-op die konfyt in die doppies. Bak teen 180 ºC vir ongeveer 25 minute.
Nota:
My hertzoggies se kors is bietjie harder en dis baie lekker so, daarom sal jy hulle ‘n rukkie langer bak. My oond werk so: hy bak bo en onder so ek moet hom stel en skuif. Wanneer ek die hertzoggies in die oond sit, dan plaas ek my pannetjie op die onderste rak vir ongeveer 15 minute op bak en sodra dit 15 minute gebak het, haal ek die pannetjie uit en skuif die rakkie tot heelbo sodat die hertzoggies nader aan die element is weer vir so ± 10 minute totdat dit lekker bruin gebak het.
Resep en fotos: Micarla Erasmus